Spring na inhoud

Broer Jegor Baranof en suster Darja Doelowa

8 SEPTEMBER 2020
RUSLAND

Jong broer Baranof en suster Doelowa wys dat hulle geloof en moed het

Jong broer Baranof en suster Doelowa wys dat hulle geloof en moed het

Twee van ons liewe jongmense in Rusland, broer Jegor Baranof en suster Darja Doelowa, bly moedig al kan hulle skuldig bevind word en vir ’n lang tyd tronk toe gestuur word. Broer Baranof is net 19 jaar oud en is op die oomblik in aanhouding voor sy verhoor. Suster Doelowa was net 18 jaar oud toe die polisie haar huis deursoek het. Hulle is die jongste van die meer as 380 broers en susters in Rusland wat aangekla is van ’n misdaad as gevolg van hulle geloof.

Broer Baranof is vanaf 27 Mei 2020 in aanhouding. Suster Doelowa wag vir hofuitsprake in twee aparte kriminele sake. Ondanks die baie uitdagings is hulle albei vasbeslote om getrou te bly aan Jehovah.

Op 27 Mei het gewapende agente van die Federale Veiligheidsdiens (FSB) die huis waar broer Baranof saam met sy ma woon, deursoek. Regter Aleksei Sjatilof het later beveel dat ons broer in aanhouding voor sy verhoor gesit moet word omdat hy “een van die leiers” is onder Jehovah se Getuies in die gebied.

Toe broer Baranof se huis deursoek is, was dit ’n ontstellende ondervinding, maar hy sê dat hy kalm geword het nadat hy tot Jehovah gebid het. Hy vertel: “Een van die agente wat daar was, het opgelet dat ek optree asof ek geweet het hulle kom.”

Broer Baranof sê dat hy homself die heeltyd daaraan herinner dat “as Jehovah die situasie toelaat, dit dan beteken dat ek dit kan verduur”. Hy verduidelik verder: “Intense gebede tot God vir sy hulp en heilige gees het my gehelp om nie bang te wees nie. Ek is ook vol vertroue omdat ek weet dat ek nie ’n krimineel is nie. My gewete is skoon, en ek word vir my geloof vervolg.”

Broer Baranof het gesê dat hy nie onveilig voel in die detensiesentrum nie. Sy mede-gevangenes wat nie gewelddadig is nie, respekteer hom en behandel hom soos ’n jonger broer. Broer Baranof sê: “Hulle besef dat ek nie hier moet wees nie.”

Op 1 Augustus 2018 het die polisie die woonstel wat suster Doelowa met haar ma deel, deursoek. Suster Doelowa verduidelik dat al was dit baie stresvol toe haar huis deursoek is en sy daarna gearresteer is, bly haar geloof sterk. Sy sê: “Ek is vasbeslote om getrou te bly aan Jehovah. Ek sal Jehovah tot die einde toe dien, maak nie saak wat gebeur nie.”

Die kriminele verhoor waarby suster Doelowa betrokke is, het in September 2019 by die Karpinski-stadshof in die Swerdlowsk-streek begin. Gedurende een van die laaste verhore het suster Doelowa vir die hof gesê dat dit normaal is vir mense om dinge met ander te deel wat hulle gelukkig maak. Sy het verduidelik: “Ek weet byvoorbeeld dat God binnekort die aarde ’n paradys gaan maak en dat daar binnekort net trane van vreugde sal wees. ’n Mens wil tog sulke goeie nuus aan ander vertel.”

Ten spyte van haar logiese en moedige verdediging is sy op 27 Januarie 2020 skuldig bevind. Suster Doelowa is ’n opgeskorte tronkvonnis van een jaar gegee. Haar prokureur het geappelleer.

Op 6 Augustus 2020 het die Swerdlowsk-streekhof suster Doelowa se uitspraak ongeldig verklaar. Die saak is terugverwys na die Karpinski-stadshof om deur ’n ander regter verhoor te word. Die datum vir die verhoor is nog nie vasgestel nie. Terwyl sy wag vir die uitkoms van daardie saak, probeer sy intussen bewys dat sy onskuldig is in ’n tweede kriminele ondersoek teen haar, haar ma en drie ander Getuies.

Broer Baranof en suster Doelowa het baie geleer uit die moeilike tye waardeur hulle gaan.

Suster Doelowa vertel wat haar gehelp het: “Versterk jou geloof in Jehovah deur die Bybel te lees, vir gemeentelike vergaderinge voor te berei en ons Koninkryksliedjies te leer. Bly besig deur na te dink aan tekste in die Bybel. Dit kan jou help om minder angstig te voel en om nie bang te wees vir dinge wat dalk kan gebeur nie.”

Broer Baranof sê: “Om vervolging te verduur moet jy ’n hegte verhouding met God hê. Moenie tyd mors nie. Maak nou jou vriendskap met Jehovah God sterker.”

Die Bybel is vol voorbeelde waar Jehovah getroue jongmense gehelp het om dapper en moedig te wees. Ons weet dat hy sal aanhou om ons liewe jongmense te ondersteun wat in Rusland en in ander dele van die wêreld vervolg word. – 1 Samuel 1:20; 16:18; 2 Konings 5:1-3; Daniël 1:14-17; 3:17-27.