25 NOVEMBER 2020
RUSLAND
Jong broer Semjon Baibak gaan voor ’n strafhof verskyn as gevolg van sy geloof
Datum van uitspraak
Op 18 Desember 2020 a word daar verwag dat die Leninski-distrikshof van Rostof-on-Don die uitspraak sal gee in die saak van broer Semjon Baibak. Die aanklaer het die hof gevra om vir Semjon ’n opgeskorte tronkvonnis van vier jaar te gee.
Profiel
Semjon Baibak
Gebore: 1997 (Rostof-on-Don)
Agtergrond: Het ’n ouer broer en suster. Het Chinees geleer en werk as ’n Chinese onderwyser. Hou van lees en om gedigte te skryf
Het van jongs af oor Jehovah by sy ouers geleer. Terwyl hy grootgeword het, het hy oor die Bybel se wyse raad geleer en besluit om dit te volg. Sy gewete het hom nie toegelaat om militêre diens te doen nie. Het tussen 2015 en 2017 alternatiewe burgerlike diens gedoen en as ’n skoonmaker by ’n kinderhospitaal gewerk
Geskiedenis van saak
Op 22 Mei 2019 het beamptes van die plaaslike sentrum wat ekstremisme teëwerk, 13 huise van Getuies in Rostof-on-Don deursoek. Op 6 Junie 2019, omtrent twee weke later, is ’n kriminele saak teen Semjon gemaak. Daarna is hy gearresteer en was hy ’n dag lank in tydelike aanhouding voordat ’n hof hom onder huisarres geplaas het. Die hof het hom agt weke onder huisarres geplaas, maar hierdie tydperk is sewe keer verleng.
Aan die begin het die owerheid Semjon van die “misdade” aangekla dat hy aan godsdiensvergaderinge deelneem en vir ander vertel wat hy in die Bybel geleer het. In November 2019 het die owerheid hom ook daarvan aangekla dat hy ’n “ekstremistiese” organisasie finansieel ondersteun.
Terwyl hierdie vervolging teen ons broers en susters in Rusland aanhou, weet ons dat Jehovah, “die God van vrede”, hulle sal toerus met alles wat hulle nodig het “om sy wil te doen”. – Hebreërs 13:20, 21.
a Kan heel moontlik verander.