Spring na inhoud

Broer Sergei Raiman en sy vrou, Walerija

7 SEPTEMBER 2020
RUSLAND

Jong paartjie word krimineel aangekla in Rusland

Jong paartjie word krimineel aangekla in Rusland

Datum van uitspraak

Op 16 September 2020 a is die Swerdlofski-distrikshof in die stad Kostroma van plan om uitspraak te lewer in die saak waarby broer Sergei Raiman en sy vrou, Walerija, betrokke is. Hulle kan elkeen ’n opgeskorte vonnis van sewe jaar ontvang.

Profiel

Sergei Raiman

  • Gebore: 1996 (Kinesjma, Iwanowo-streek)

  • Agtergrond: Het konstruksie studeer by ’n tegniese skool. Het kenner geword in binnenshuise ontwerp. Het by sy ouma geleer om die Bybel lief te kry en te respekteer. Het in 2015 met Walerija getrou. Geniet dit om te kook en te ski

Walerija Raiman

  • Gebore: 1993 (Sjarja, Kostroma-streek)

  • Agtergrond: Haar pa is dood toe sy tien jaar oud was. Het by haar ma oor Jehovah geleer. Is ’n gelisensieerde haarkapper

Geskiedenis van saak

In die vroeë oggendure van 25 Julie 2018 het gewapende spesiale magte breekysters gebruik om by die huis van broer en suster Raiman in te breek. Die beamptes het die paartjie gearresteer. Suster Raiman was twee dae lank in aanhouding. Broer Raiman was 59 dae in alleenopsluiting. Die owerheid het die Raiman’s se kommunikasie met ander Jehovah se Getuies beperk. Hulle word ook nie toegelaat om hulle huis in die aand te verlaat nie. Hierdie stresvolle situasie het ’n uitwerking op hulle fisiese en emosionele gesondheid.

Terwyl die jong paartjie vir hulle uitspraak wag, bid ons dat hulle sal aanhou om moedig en sterk te wees en die vertroue sal hê dat Jehovah nooit sal ophou om hulle te ondersteun nie. – Josua 1:9.

a Kan heel moontlik verander