Spring na inhoud

Russiese agente dra wapens en ’n hamer terwyl hulle afstorm op een van die 31 huise wat hulle in Julie in die stad Nizjni Nowgorod deursoek het

7 AUGUSTUS 2019
RUSLAND

Meer as 600 huise van Getuies al deur Russiese owerheid deursoek

Meer as 600 huise van Getuies al deur Russiese owerheid deursoek

Oor die afgelope 18 maande het die plaaslike polisie en agente van die Federale Veiligheidsdiens (FSB) in Rusland altesaam 613 huise van ons broers en susters deursoek. Die owerheid het alreeds 332 huise deursoek hierdie jaar. Dit is meer as die 281 huise wat in 2018 deursoek is.

Die owerheid het veral in die afgelope paar maande teen ons broers en susters opgetree. In Junie is 71 huise deursoek, en in Julie is 68 huise deursoek. Dit is baie meer as in 2018 toe daar net gemiddeld omtrent 23 huise elke maand deursoek is.

Wanneer ’n plek deursoek word, storm baie polisiemanne die huis of woonstel binne. Hulle dra gewoonlik maskers en is swaar gewapen. Wanneer die agente binne die huis is, druk hulle hulle wapens in die Getuies se gesigte, insluitende kinders en bejaardes, asof die Getuies gevaarlike misdadigers is. Dit maak sin dat baie geleerdes saamstem met dr. Derek H. Davis, ’n voormalige direkteur van J.M. Dawson Institute of Church-State Studies by Baylor-Universiteit. Hy het gesê: “Rusland se aggressiewe vervolging van ’n vreedsame groep soos die Jehovah se Getuies is duidelik ‘ekstremisties’.”

Die Russiese owerheid deursoek ’n huis in Nizjni Nowgorod

Ongelukkig terwyl daar al hoe meer huise deursoek word, word daar al hoe meer kriminele sake teen ons broers gemaak. Daar is nou 244 broers en susters teen wie kriminele klagtes gelê is in Rusland en die Krim. Hierdie getal het meer as verdubbel sedert Desember 2018, toe daar 110 kriminele sake teen Getuies was. Van die 244 broers en susters wat krimineel vervolg word, is 39 in aanhouding, 27 onder huisarres en meer as 100 onder verskillende beperkings.

Al hou die Russiese owerheid aan om ons broers en susters te vervolg, ‘laat hierdie verdrukkinge ons nie wankel nie’. Ons word eerder aangemoedig deur die nuus dat ons mede-gelowiges lojaal bly en hierdie dinge verduur. Ons prys en dank Jehovah omdat hy ons baie gebede namens hulle beantwoord, en ons vertrou dat hy sal aanhou om dit te doen. – 1 Tessalonisense 3:3, 7.