Spring na inhoud

Broer Roeslan Aljef saam met sy vrou, Kristina, op 16 September 2020 voor die hof

16 DESEMBER 2020
RUSLAND

Ná 18 maande van huisarres kan broer Roeslan Aljef skuldig bevind word

Ná 18 maande van huisarres kan broer Roeslan Aljef skuldig bevind word

Datum van uitspraak

Op 17 Desember 2020 a word daar verwag dat die Leninski-distrikshof van Rostof-on-Don sy uitspraak sal lewer in die saak van broer Roeslan Aljef. Die aanklaer het gevra dat die hof vir Roeslan ’n opgeskorte tronkvonnis van drie jaar moet gee.

Profiel

Roeslan Aljef

  • Gebore: 1987 (Tsjoenojar, Krasnojarsk-gebied)

  • Agtergrond: Sy gesin het gereeld getrek en het in Oekraïne en Azerbeidjan gebly. Het al gewerk as ’n bouer, verkoopsman en kitaaronderwyser. Het ook mense Engels en Chinees geleer. Geniet sport en skryf ook gedigte en musiek. Praat vier tale. Sy vrou, Kristina, praat ook Chinees

    Het op 13-jarige ouderdom die Bybel begin lees en studeer. Hoe meer hy studeer het, hoe meer het hy besef dat die Bybel antwoorde op al sy vrae oor die lewe bevat. Daarom het hy homself aan God toegewy en is hy in 2006 gedoop

Geskiedenis van saak

Op 6 Junie 2019 is ’n kriminele saak teen broer Roeslan Aljef gemaak wat veroorsaak het dat hy op 10 Junie 2019 in aanhouding geplaas is. Nadat Roeslan en ’n ander broer, Semjon Baibak, 24 uur lank in aanhouding was, is hulle onder huisarres geplaas. Aan die begin was Roeslan agt weke lank onder huisarres geplaas, maar hierdie tydperk is nege keer verleng. As gevolg hiervan is hy al 18 maande lank onder huisarres. Terwyl Roeslan onder huisarres is, mag hy nie met enigiemand assosieer behalwe vir sy prokureur, die speurder, die inspekteur en sy vrou nie. Hy mag nie die Internet gebruik nie, en hy mag ook nie enige briewe of boodskappe stuur of ontvang nie.

Roeslan en sy vrou, Kristina, het voor sy aanhouding baie keer gepraat oor hoe dit net ’n kwessie van tyd is voordat hulle op hierdie manier vervolg sou word. Hy sê: “Ons het probeer om ’n goeie geestelike roetine te behou. Vervolging is iets waarmee ons bekend was as gevolg van ons Jaarboeke en die lewensverhale van ons broers en susters. Ons het opgelet dat die broers en susters waaroor ons gelees het, selfs in die moeilikste situasies hulle sin vir humor behou het en nie ontmoedig geraak het nie.” Roeslan voeg by: “Ons het vir Jehovah vir die krag gevra om alles wat nog voorlê, te hanteer.”

Dit het Roeslan ook gehelp om met ander oor die vervolging te praat wat hulle dalk sou deurmaak. “Ek het baie vertroostende gedagtes in die Bybel en aanmoedigende artikels opgesoek sodat ek baie verkondigers in die gemeente kon kalmeer en aanspoor. En toe ek vertroosting nodig gehad het, het daardie selfde Bybeltekste en artikels wat ek gememoriseer het, my gehelp.”

Dit het Roeslan en Kristina albei gehelp om voorbereid te wees op vervolging. Toe hulle huis deursoek was, sê hy: “Ek het kalm gevoel, en ek was nie eintlik angstig nie.” Gedurende die ondersoek het die speurder ook gedreig om ’n kriminele saak teen Kristina te maak. Roeslan sê: “Die moontlikheid van kriminele vervolging het my liewe vrou, Kristina, nie bang gemaak nie. Dit het my baie aangemoedig en versterk.”

Omdat Roeslan onder huisarres is, is daar baie uitdagings. Tog sê Roeslan: “Jehovah gee ons altyd wat ons fisies, geestelik en emosioneel nodig het, en dit is presies wat ek verwag het. Ons het al lank terug geleer om op hom te vertrou en om tevrede te wees met ’n eenvoudige lewe. Daarom het ons nie onnodige stres nie.”

Tydens een van die verhore oor die verlenging van Roeslan se huisarres was sy ondersteuners nie in die hof toegelaat nie. Maar ons broers en susters het buite die hof bymekaargekom, en toe hy uitkom, het hulle hande geklap en geroep: “Roeslan, ons staan agter jou!”

Ons is baie dankbaar vir die goeie voorbeelde van ons broers en susters in Rusland. Al word hulle sonder rede vervolg, hou hulle aan om ten volle op Jehovah te vertrou. – Psalm 118:6-9.

a Kan heel moontlik verander.