18 FEBRUARIE 2020
RUSLAND
Polisiemanne martel broer Wadim Koetsenko in Tsjita, Rusland
Op 10 Februarie 2020 het polisiemanne in Tsjita, Rusland, broer Wadim Koetsenko, een van Jehovah se Getuies, tot laat in die aand gemartel. Die polisie het hom herhaaldelik geslaan en gewurg en hom elektries geskok op sy maag en sy been. Terwyl hulle dit gedoen het, het hulle aangedring dat broer Koetsenko vir hulle inligting gee oor medegelowiges.
Vroeër daardie dag het agente van die Federale Veiligheidsdiens (FSB) omtrent 40 huise van Getuies in Tsjita, insluitende broer Koetsenko se huis, deursoek. Russiese spesiale polisiemagte het hom elfuur die aand by sy skoonma se huis gearresteer. Hulle het hom geboei, sy kop bedek en hom na ’n woud daar naby geneem waar hulle hom gemartel het. Al is broer Koetsenko gemartel, het hy geweier om inligting oor ander Getuies te gee. Toe die agente besef dat hulle metodes nie werk nie, het hulle hom na die speurder se kantoor geneem om hom verder te ondervra.
Daarna is broer Koetsenko in aanhouding gesit saam met drie ander broers wat gearresteer is nadat Getuies se huise in Tsjita deursoek is – Sergei Kiriljoek, Pawel Mamalimof en Wladimir Jermolajef.
Twee dae later het die Ingodinski-distrikshof beslis dat broer Koetsenko, Kiriljoek en Mamalimof vir 72 uur in tydelike aanhouding geplaas moet word. Die hof het broer Jermolajef vrygelaat en hom onder huisarres geplaas.
Op 15 Februarie is broer Wadim Koetsenko en die twee ander broers vrygelaat omdat die speurder nie genoeg bewyse gehad het om hulle aan te kla nie. Die speurder het die broers vrygelaat sonder ’n verhoor en sonder om enige beperkings op hulle te plaas.
Ons bid dat broer Koetsenko en ons ander broers in Rusland “moedig en baie sterk” sal bly. Ons weet dat Jehovah hulle deur hierdie moeilike tye sal ondersteun. – Josua 1:7, 9.