Spring na inhoud

19 APRIL 2017
RUSLAND

Dag vyf: Rusland se Hooggeregshof ondersoek bewyse om Jehovah se Getuies te verban

Dag vyf: Rusland se Hooggeregshof ondersoek bewyse om Jehovah se Getuies te verban

Die Hooggeregshof van die Russiese Federasie het vandag begin om die uitgebreide saak wat 43 lêers met dokumente bevat, te hersien. Die regsgeleerdes van die Administratiewe Sentrum (Sentrum) is toegelaat om nuwe bewyse in te dien van die klopjagte op die godsdiensvergaderinge van Jehovah se Getuies. In Maart en April 2017 het wetstoepassingsinstansies hierdie godsdiensvergaderinge versteur en die mense wat daar was, met kriminele aanklagte gedreig.

Die Hof het die versoek van die Departement van Justisie (Departement) oorweeg om die 395 regsentiteite (plaaslike godsdiensorganisasies of LRO’s) te likwideer, en daarom het hulle argumente aangehoor in verband met die wetlike samestelling en kerklike leerstellings van Jehovah se Getuies. Die regsgeleerdes van die Getuies het uitgewys dat die vroeëre beslissings om agt LRO’s te verban, op valse bewyse en foutiewe prosedure gebaseer is.

Die regsgeleerdes van die Sentrum het ook beklemtoon dat die Departement dubbele standaarde toepas. Gedurende die verhore om die LRO’s te likwideer, het die Departement volgehou dat daar nie ’n verbintenis is tussen die Sentrum en die bedrywighede van die LRO’s nie. Die Departement het ook die Sentrum verhoed om by die hofsake betrokke te raak. Maar in hierdie saak sê die Departement dat die Sentrum verantwoordelik gehou kan word vir beweerde oortredings deur die LRO’s en vir die “ekstremisme” wat in die Getuies se lektuur verskyn.

Die Departement het verskeie inspeksies van die Getuies se regsentiteite gedoen, en hierdie inspeksie-verslae by die Hof ingedien. Maar toe die Departement hieroor ondervra is, kon hulle nie ’n enkele geval noem waar die Getuies by ekstremistiese bedrywighede betrokke was nie.

Die saak het op 20 April 2017 verder gegaan.