Spring na inhoud

Broer Dmitri Michailof gedurende ’n onlangse onderhoud. Hy was op 29 Mei 2018 deur die Russiese owerheid gearresteer en was 171 dae in die tronk

18 JUNIE 2019
RUSLAND

Rusland het broer Michailof onwettig aangehou, sê VN-deskundiges

Rusland het broer Michailof onwettig aangehou, sê VN-deskundiges

’n Internasionale paneel regsdeskundiges van die Verenigde Nasies (VN) het tot die gevolgtrekking gekom dat Rusland teen broer Dmitri Michailof “gediskrimineer het op grond van godsdiens”. Rusland het ook internasionale wetgewing gebreek toe hulle hom gearresteer en aangehou het. Rusland is gevra om alle kriminele klagtes teen hom terug te trek.

Volgens die verslag van 12 bladsye deur die paneel, die Werkende Groep vir Arbitrêre Opsluiting (WGAD), was broer Michailof se gedrag “altyd vreedsaam”. Hulle het ook gesê dat “daar geen bewys is dat hy of enige van Jehovah se Getuies in die Russiese Federasie al ooit gewelddadig was of ander mense aangemoedig het om gewelddadig te wees nie”.

Die WGAD het tot die gevolgtrekking gekom dat broer Michailof “maar net sy reg op godsdiensvryheid uitgeoefen het” en dat hy “nie gearresteer of aangehou moes word voor sy verhoor nie”. Daarom het hy die reg op skadevergoeding omdat hy nie kon werk nie en omdat sy persoonlike vryheid wegneem is toe hy onwettig aangehou is.

Die WGAD het ook erken dat broer Michailof nie die enigste een is wat sleg behandel word as gevolg van sy godsdiens nie. Hy is “net een van al hoe meer Jehovah se Getuies in die Russiese Federasie wat gearresteer, aangehou en aangekla is van kriminele bedrywighede net omdat hulle hulle godsdiensvryheid uitgeoefen het”. Dit is ’n reg wat deur internasionale wetgewing beskerm word. Die WGAD veroordeel die vervolging van ons mede-aanbidders in Rusland en het duidelik gesê dat hulle opinie nie net van toepassing is op broer Michailof se onregverdige aanhouding nie, maar ook op alle Getuies van Jehovah wat “in ’n soortgelyke situasie as mnr. Michailof is”.

Broer Michailof het die Bybel as ’n tiener begin studeer en is in 1993 gedoop, toe hy 16 jaar oud was. In 2003 het hy met Jelena getrou, en hulle het Jehovah saam begin dien.

In 2018 het broer en suster Michailof agtergekom dat die owerheid hulle telefoongesprekke ’n paar maande lank afgeluister het en hulle met ’n videokamera afgeneem het. Op 19 April 2018 het die Ondersoekkomitee van die Russiese Federasie in die Iwanowo-streek ’n kriminele saak teen broer Michailof gemaak. Swaar gewapende polisiemanne het sy huis deursoek. Omtrent ’n maand later was hy gearresteer en aangehou omdat die owerheid gesê het dat hy “ekstremistiese” bedrywighede finansieel ondersteun het. Nadat hy amper ses maande – 171 dae – in aanhouding was voor sy verhoor, is hy vrygelaat. Maar hy word nie toegelaat om te reis nie en die owerheid hou al sy kommunikasie dop terwyl sy kriminele ondersoek nog aan die gang is.

Die WGAD het die Russiese regering gevra om binne ses maande te reageer. Hulle moet teen daardie tyd vir die WGAD sê of hulle die kriminele saak teen Michailof teruggetrek het, skadevergoeding aan hom betaal het en die mense wat sy regte geskend het, ondersoek het.

’n Soortgelyke opinie van die WGAD het heel moontlik veroorsaak dat die regering in Kazakstan broer Teymur Akhmedov vrygelaat het. Hy was in 2017 gearresteer en toe tot vyf jaar tronkstraf gevonnis omdat hy vreedsaam met ander oor sy geloof gepraat het. Nadat broer Akhmedov van alle regsopsies gebruik gemaak het, het sy regsgeleerdes ’n klag by die WGAD ingedien. In die WGAD se opinie van 2 Oktober 2017 veroordeel hulle die regering van Kazakstan se optrede en vra hulle dat broer Akhmedov vrygelaat word. Die president van Kazakstan het broer Akhmedov ses maande later vrygespreek. Hy is op 4 April 2018 uit die tronk vrygelaat.

Dit maak nie saak hoe Rusland op die WGAD se beslissing in broer Michailof se saak reageer nie. Ons vertrou ten volle op die volgende belofte: “Gelukkig is die man wat sy toevlug tot [Jehovah] neem.” Ons bid dat Jehovah sal aanhou sorg vir ons broers en susters in Rusland wat soos kriminele behandel word. Dan sal hulle sien dat almal wat moedig op Hom vertrou, “aan niks goeds [sal] ontbreek nie”. – Psalm 34:8, 10.