Spring na inhoud

Hierdie tien broers en susters, saam met agt ander, was onwettig gearresteer en aangehou in Rusland volgens ’n paneel van menseregte-deskundiges van die VN: Andrei Maglif, Igor Egozarjan, Roeslan Korolef, Wladimir Koeljasof en Waleri Rogozin (boonste ry, van links na regs); Waleri Sjalef, Tatiana Sjamsjewa, Olga Silajewa, Aleksandr Solowjef en Denis Timosjin (onderste ry, van links na regs)

18 MEI 2020
RUSLAND

Rusland het internasionale wetgewing geskend toe hulle 18 Getuies van Jehovah in die tronk gesit het, sê VN-deskundiges

Rusland het internasionale wetgewing geskend toe hulle 18 Getuies van Jehovah in die tronk gesit het, sê VN-deskundiges

’n Paneel van menseregte-deskundiges van die Verenigde Nasies (VN) het ’n verslag van 15 bladsye uitgegee. Hulle het tot die gevolgtrekking gekom dat Rusland internasionale wetgewing geskend het toe hulle 18 Getuies van Jehovah tussen Mei 2018 en Julie 2019 in verskillende stede gearresteer en aangehou het. Die paneel dring daarop aan dat die Getuies wat nog steeds in aanhouding is, dadelik en sonder voorwaardes vrygelaat moet word.

’n Voorlopige kopie van die paneel se verslag is op 15 Mei 2020 vrygestel. Die finale weergawe sal binnekort op die VN se webwerf beskikbaar wees.

Dit is die derde keer in die afgelope jaar dat die paneel, die Werkende Groep vir Arbitrêre Opsluiting, tot ’n gevolgtrekking ten gunste van ons mede-aanbidders gekom het. In hulle nuutste verslag veroordeel die Werkende Groep Rusland se regering omdat hulle ons broers en susters openlik mishandel.

Die Werkende Groep het gesê dat daar geen geldige redes vir die Russiese polisie was om “uiterste geweld” te gebruik toe hulle die Getuies gearresteer het nie. Hulle het ook gesê dat “nie een van [die Getuies] gearresteer en in die tronk gesit moes word nie en dat nie een van hulle hof toe moes gaan of in die toekoms voor die hof gebring moet word nie”.

Die paneel stem glad nie saam dat die Getuies aan sogenaamde ekstremistiese bedrywigheid deelgeneem het nie. Hulle verduidelik dat die broers en susters net “hulle godsdiens vreedsaam beoefen het, wat hulle wetlike reg is”.

In die verslag veroordeel die deskundiges ook die metodes wat teen ons broers in die hof gebruik is. Byvoorbeeld, twee van die susters is in hokke in die hof aangehou gedurende party van hulle verhore. Die Werkende Groep verduidelik dat volgens internasionale wetgewing het almal die reg om “as onskuldig beskou te word totdat daar bewys word dat hulle skuldig is volgens die wet”. Vir hierdie rede moes ons susters nie “geboei of in hokke aangehou word gedurende hulle verhore nie en hulle moes nie in die hof voorgestel word as gevaarlike kriminele nie”.

Die Werkende Groep dring daarop aan dat Rusland die kriminele rekords van al 18 Getuies moet skrap en hulle vergoed in ooreenstemming met internasionale wetgewing. Die land is ook gevra om die “omstandighede wat tot hierdie ongeregtighede gelei het, deeglik en onafhanklik te ondersoek”. Hulle moet ook “gepas optree teen diegene wat verantwoordelik is vir die skending van [die Getuies se] regte”.

Die verslag deur die Werkende Groep sê dat die 18 Getuies “net ’n paar van baie Jehovah se Getuies in Rusland is wat gearresteer, aangehou en aangekla is van kriminele bedrywigheid omdat hulle hulle vryheid van godsdiens beoefen het”. Dit is ’n reg wat beskerm word deur ’n internasionale ooreenkoms waarvan Rusland deel is. So al fokus die huidige verslag net op die 18 broers en susters wat genoem is, sê die Werkende Groep duidelik dat die gevolgtrekkings “op almal van toepassing is wat in ’n soortgelyke situasie is”.

Die Werkende Groep se verslag waarborg nie dat ons broers en susters in Rusland vrygespreek sal word nie, maar dit gee hoop dat dit die situasie sal verbeter. Ons wag vir Rusland se reaksie. Intussen gaan ons broers en susters in Rusland moedig deur vervolging, maar ons weet dat ons liefdevolle Vader, Jehovah, sal aanhou om hulle met vreugde en vrede te vul omdat hulle op hom vertrou. – Romeine 15:13.