Spring na inhoud

Die hoofkwartier van die Federale Diens vir Finansiële Toesig

13 JANUARIE 2023
RUSLAND

Rusland hou aan om ekonomiese sanksies teen honderde Getuies van Jehovah in te stel

Rusland hou aan om ekonomiese sanksies teen honderde Getuies van Jehovah in te stel

In Rusland is die Federale Diens vir Finansiële Toesig (Rosfinmonitoring) ’n regeringsagentskap wat verantwoordelik is om teen finansiële misdade te veg. Dit sluit byvoorbeeld in om te keer dat ekstremistiese organisasies geld ontvang. Hulle het ’n openbare lys van mense wat daarvan verdink word dat hulle aan ekstremistiese of terroristiese bedrywighede deelneem. ’n Persoon kan by hierdie lys gevoeg word selfs al is hy nie deur ’n hof skuldig bevind nie.

Sedert die uitspraak in 2017 deur die Hooggeregshof van die Russiese Federasie wat ’n verbod op die bedrywigheid van Jehovah se Getuies geplaas het, is die name van 525 van ons broers en susters by hierdie lys gevoeg. a Hierdie getal sluit meer as 100 bejaarde Getuies in.

Diegene wat op hierdie lys geplaas is, het baie finansiële beperkings. Byvoorbeeld, hulle bankrekeninge is gevries, en elke gesinslid word net toegelaat om ’n maandelikse toelaag van ongeveer 10 000 roebel (R2 356) te onttrek vir basiese behoeftes. Daar is ook baie ander beperkings wat die daaglikse lewe onmoontlik of baie moeilik maak. Byvoorbeeld, dit is baie moeilik om eiendom of ’n kar te koop of te verkoop, versekering te kry of werkloosheidsvoordele, ’n erfporsie of ’n lening by die bank te ontvang. Getuies wat pensioenarisse of gestremd is, word veral geraak omdat hulle sukkel om vir mediese behandeling te betaal, en hulle word dikwels nie toegelaat om openbare vervoer te gebruik nie.

Broer Anton Tsjermnich in Oessoerisk, wat in Desember 2019 by die lys gevoeg is, vertel: “Om my salaris te kry, moet ek elke maand bewys dat ek nie die geld op ’n onwettige manier gekry het nie. Ek moet baie dokumente na die bank neem wat die bank skandeer en dan vir Moskou stuur. Dit vat die regering twee weke om die dokumente na te gaan. Op ’n vasgestelde dag gaan ek terug na die bank toe en dan onttrek ’n werker by die bank my salaris uit my rekening, gee dit vir my en vries weer dadelik die rekening. Wanneer nuwe werkers by die bank uitvind dat ek op die lys van terroriste is, is hulle bang vir my.”

Ten spyte van hierdie uitdagings behou ons broers en susters ’n positiewe gesindheid. Broer Joeri Belosloedtsef, wie se naam by die lys gevoeg is twee en ’n half jaar voordat hy ’n opgeskorte vonnis van ses jaar ontvang het, het gesê: “My rekeninge is gevries. Maar ek en my vrou is deur broers en susters gehelp. Ons is baie dankbaar teenoor Jehovah vir hulle ondersteuning.”

Ons weet dat Jehovah ten volle bewus is van die ongeregtighede wat ons broers en susters in Rusland deurmaak. Ons bid met die volle oortuiging dat Jehovah sal aanhou om vir hulle te sorg gedurende hierdie moeilike tyd. – Matteus 6:33.

a Tot en met Desember 2022 is 35 broers en susters van die Rosfinmonitoring-lys verwyder nadat hulle hulle vonnis uitgedien het of ’n boete betaal het.