Spring na inhoud

Broer Nikolai Kuzitsjkin (links) en Wiatsjeslaf Popof (regs)

18 DESEMBER 2020
RUSLAND

Russiese hof bevind broer Nikolai Kuzitsjkin en Wiatsjeslaf Popof skuldig

Russiese hof bevind broer Nikolai Kuzitsjkin en Wiatsjeslaf Popof skuldig

Uitspraak

Op 18 Desember 2020 het die Chostinski-distrikshof van Sotsji broer Nikolai Kuzitsjkin en Wiatsjeslaf Popof skuldig bevind. Die hof het Nikolai tot een jaar en een maand en Wiatsjeslaf tot een jaar en tien maande tronkstraf gevonnis. Maar as gevolg van die tyd wat hulle alreeds voor hulle verhoor in aanhouding was, word dit beskou asof hulle tronkstraf uitgedien is. Wiatsjeslaf, wat nog in aanhouding is, sal vrygelaat word sodra die uitspraak van krag word. Nikolai is nie meer onder huisarres nie.

Profiel

Nikolai Kuzitsjkin

  • Gebore: 1951 (Kostroma-streek)

  • Agtergrond: Nadat hy by ’n musiekskool gestudeer het, het hy begin om as ’n klavierstemmer te werk. Hy en sy vrou, Olga, het drie seuns grootgemaak. Hy is ook ’n goeie byeboer

    Hy het in die vroeë 1990’s die Bybel saam met Jehovah se Getuies begin studeer. Toe hy met sy eie oë gesien het hoe Bybelprofesieë waar word, het dit hom gemotiveer om hom in 1993 toe te wy en te laat doop

Wiatsjeslaf Popof

  • Gebore: 1974 (Tomsk)

  • Agtergrond: Hy was van kleins af ’n kunstenaar en het ’n binnenshuise versierder geword. Hy het sy vrou, Julija, ontmoet toe hulle op kollege was. Hulle is in 1998 getroud en het een dogter en twee seuns. Hulle het in 2010 na Sotsji getrek. Die gesin geniet dit om te ski en see toe te gaan

    Julija het eerste die Bybel saam met Jehovah se Getuies gestudeer. Ná sy pa se dood het Bybelwaarheid Wiatsjeslaf vertroos. Hy is in 2004 gedoop

Geskiedenis van saak

Op die aand van 10 Oktober 2019 het gewapende beamptes van die geheime diens, party met honde by hulle, ’n klopjag uitgevoer op 36 huise van Jehovah se Getuies in Sotsji, Rusland.

Jonk en oud moes op die vloer lê, met hulle gesig na onder, terwyl hulle huise deursoek is. Selfone, tablette, rekenaars, lektuur, notaboeke en selfs poskaarte is alles gekonfiskeer. In party gevalle het beamptes verbode lektuur in die huise weggesteek. As gevolg daarvan het die beamptes broer Nikolai Kuzitsjkin en Wiatsjeslaf Popof gearresteer. Die volgende dag is albei broers in aanhouding geplaas terwyl hulle moes wag vir hulle verhoor.

Broer Kuzitsjkin het ’n hele paar ernstige gesondheidsprobleme. Hofamptenare het elke keer mediese hulp geweier wanneer hy daarvoor gevra het, want volgens hulle was sy toestand nie op die “lys siektes wat keer dat iemand aangehou kan word nie”. Nikolai is in ’n oorvol sel gesit saam met gevangenes wat sigarette gerook het, en dit het sy gesondheid nog verder verswak.

Ten spyte van die lewensgevaarlike toestande in die tronk, sê Nikolai: “’n Tronk is soos ’n X-straal. ’n X-straal wys wat ’n mens binne is. Net so wys lewe in die tronk wat ’n Christen van binne is, of hy goeie eienskappe het of nie.” In plaas daarvan om op homself te fokus het Nikolai bekend geword as ’n vreedsame, vriendelike man wat probeer om ander gevangenes te help wat aan depressie ly en aan selfmoord dink.

Op 22 April 2020, nadat Nikolai se aanhouding voor sy verhoor ses keer verleng was, is hy onder huisarres geplaas. Hy was baie swak en kon skaars regop staan. Nikolai is tóé eers toegelaat om mediese behandeling te kry.

Wiatsjeslaf se aanhouding voor sy verhoor was 14 keer verleng en hy was vir langer as ’n jaar weg van sy gesin.

Ons is dankbaar vir Nikolai en Wiatsjeslaf se voorbeeld van geloof en vasbeslotenheid om Jehovah se soewereiniteit te ondersteun. Hulle lewe volgens Psalm 16:8, wat sê: “Ek hou Jehovah heeltyd voor my. Omdat hy aan my regterhand is, sal ek altyd standvastig wees.”