Spring na inhoud

Suster Anastasija Sitsjewa

22 JANUARIE 2021
RUSLAND

Russiese hof bevind suster Anastasija Sitsjewa skuldig aan deelname aan vergaderinge

Russiese hof bevind suster Anastasija Sitsjewa skuldig aan deelname aan vergaderinge

Uitspraak

Op 21 Januarie 2021 het die Obloetsjenski-distrikshof van die Joodse selfregerende streek suster Anastasija Sitsjewa skuldig bevind. Sy was tot ’n opgeskorte tronkstraf van twee jaar gevonnis. Sy hoef nie op hierdie stadium tronk toe te gaan nie.

Profiel

Anastasija Sitsjewa

  • Gebore: 1977 (Teploozjorsk, Joodse selfregerende streek)

  • Agtergrond: Kom uit ’n gesin van vyf kinders, waarvan twee oorlede is. Het opleiding as ’n verpleegster voltooi. Het vir ’n tandarts gewerk en het toe by ’n psigiatriese hospitaal gewerk. Nadat haar oudste suster gesterf het, het sy ingestem om na haar suster se twee jong kinders te kyk. Het vir haar ma gesorg totdat haar ma gesterf het nadat sy lank siek was

    Toe sy ’n tiener was, het sy baie gedink oor hoe kort die lewe is. Dit het veroorsaak dat sy die Bybel begin studeer het. Sy het bevredigende antwoorde in die Bybel gekry. Is in 1994 as een van Jehovah se Getuies gedoop

Geskiedenis van saak

Die Russiese owerhede het in Oktober 2019 Anastasija op die lys van “ekstremiste” gesit. Op 25 September 2019 het Rusland se Federale Veiligheidsdiens (FSB) in Birobidzjan ’n kriminele saak teen Anastasija gemaak. Sy is daarvan aangekla dat sy opsetlik aangehou het met die bedrywighede van die plaaslike godsdiensorganisasie van Jehovah se Getuies omdat sy aan godsdiensvergaderinge deelgeneem het en haar geloof met ander bespreek het.

Gedurende die verhoor het die aanklaer oudio- en video-opnames van Anastasija se telefoongesprekke en van vergaderinge wat sy bygewoon het, gespeel. Die aanklaer het beweer dat die opnames wys dat ons suster skuldig was aan “ekstremistiese” bedrywigheid. Anastasija het hierdie sogenaamde bewyse gebruik as ’n geleentheid om ’n getuienis te gee. Sy het verduidelik dat mense by die vergaderinge van Jehovah se Getuies geleer word hoe om meegevoel, vergifnis, geduld en ander Christelike eienskappe te ontwikkel.

Anastasija se kommentare aan die einde van haar verhoor het haar die geleentheid gegee om te verduidelik hoe die Bybel ’n positiewe invloed op haar lewe gehad het. Sy sê onder andere: “Vandag word ek geoordeel vir my geloof en omdat ek aanhou met my godsdiensbedrywighede, soos om die Bybel te lees, om met my vriende bymekaar te kom om die Bybel te bespreek, om lofliedere tot Jehovah te sing en om tot hom te bid.

“Hoe kan ek die gebod in Hebreërs 10:24, 25 ignoreer? Ek haal aan: ‘En laat ons aandag skenk aan mekaar sodat ons mekaar tot liefde en goeie werke kan aanspoor. Ons moenie ons vergaderingbywoning verwaarloos, soos party die gewoonte het nie, maar ons moet mekaar aanmoedig, en ons moet dit al hoe meer doen terwyl ons die dag sien nader kom.’ As die Allerhoogste God, Jehovah self, my aanmoedig om saam met my vriende en my mede-aanbidders bymekaar te kom, om die Bybel te lees, om ander aan te moedig en liefdevol te behandel, hoe kan ek dan ongehoorsaam aan hom wees? Ek is baie lief vir hom, het diep respek vir hom en aanbid hom uit die hart.”

Ons is bly om te hoor hoe Anastasija haar geloof moedig verdedig het en gewys het dat sy sterk en positief is. Ons bid dat sy haar vreugde sal behou en dat hierdie toets van haar geloof haar sal help om aan te hou volhard. – Jakobus 1:2, 3.