Spring na inhoud

3 FEBRUARIE 2021
RUSLAND

Russiese hof gee broer Artoer Lochwitski opgeskorte vonnis

Russiese hof gee broer Artoer Lochwitski opgeskorte vonnis

Op 2 Februarie 2021 het die Birobidzjan-distrikshof van die Joodse selfregerende streek Artoer Lochwitski, wat 35 jaar oud is, skuldig bevind. Die hof het hom ’n opgeskorte tronkstraf van twee jaar en ses maande en ’n parooltydperk van drie jaar gegee. Artoer hoef nie op hierdie stadium tronk toe te gaan nie.

In sy laaste woorde voor die hof het Artoer gesê: “Dit is ’n groot eer om voor hierdie hof te praat, maak nie saak wat die hof se uitspraak is nie. Ek het weereens gesien hoe Jesus Christus se woorde vervul is. Hierdie woorde staan in Markus 13:9, 10: ‘Julle moet wakker en versigtig wees. Mense sal julle aan plaaslike howe oorlewer, . . . as ’n getuienis vir hulle. Die goeie nuus moet ook eers aan mense van al die nasies verkondig word.’ . . . Hierdie kennis beweeg my om ander oor God se voorneme te vertel. Dit is vir my ’n voorreg om u daaroor te vertel, u Edele.”