Spring na inhoud

Broer Roeslan Aljef saam met sy vrou, Kristina, voor die hof op 17 Desember 2020

17 DESEMBER 2020
RUSLAND

Russiese hof gee vir broer Roeslan Aljef ’n opgeskorte vonnis

Russiese hof gee vir broer Roeslan Aljef ’n opgeskorte vonnis

Sluit bykomende kommentare in deur broer Aljef

Op 17 Desember 2020 het die Leninski-distrikshof van Rostof-on-Don broer Roeslan Aljef ’n opgeskorte vonnis van twee en ’n half jaar gegee. Hy hoef nie op hierdie stadium tronk toe te gaan nie.

In die dae voor die uitspraak het Roeslan gewys dat hy die “vrede van God” ervaar (Filippense 4:7). Hy het kalm vir sy vriende gesê: “Ek is nie juis bekommerd oor hoe die hofsaak gaan uitdraai nie. Alles wat God toelaat, sal in sy hande wees en hulp sal op die regte tyd kom. Ek sal Jehovah dien, maak nie saak waar ek is nie.” Roeslan weet ook dat sy broers en susters regoor die wêreld bid dat hy lojaal moet volhard, en hy sê dat dit vir hom “baie vertroostend” is.

Op 14 Desember 2020 het Roeslan in sy laaste woorde aan die hof moedig gesê: “In die eerste eeu HJ het ’n jong man van 33 voor die hof gestaan omdat hy daarvan beskuldig is dat hy mense teen die regering opgestook het. Maar al die inligting wat ons oor daardie hofsaak het, wys dat hy eintlik vervolg is oor sy verhouding met God, Jehovah. Die getuies se verklarings het mekaar weerspreek en die aanklaer kon glad nie sy skuld bewys nie, en tog is hy skuldig bevind. Daardie man was Jesus Christus.

“Nou, vandag, in die een-en-twintigste eeu, staan ek – ook ’n jong man van 33 – voor die hof en word ek ook beskuldig van “’n misdaad teen die grondwetlike reg en staatsveiligheid. . . . Wanneer ek hoor dat ek daarvan beskuldig word dat ek die grondwetlike reg ondermyn en staatsveiligheid bedreig, is ek verbaas oor hoe vals en belaglik hierdie beskuldiging is.”

Roeslan het ook die valse aanklag dat hy etniese en godsdienshaat opstook, sterk ontken. Hy het gesê: “As gevolg van omstandighede, het ek in die kultuur van ten minste drie volksgroepe grootgeword: die Russiese, Azerbeidjanse en Oekraïense volksgroepe. Ek is ewe lief vir al hierdie kulture. . . . Baie van my vriende kom uit Afrikalande waar hulle Engels praat en party van my vriende is Chinees. . . . Ek is in Azerbeidjan gebore. Almal weet hoe lank die mense van Azerbeidjan en Armenië mekaar al haat, maar my hegte vriend is Armeens en hy het as ’n getuie by my troue geteken. My godsdiensagtergrond het my gehelp om so te voel oor mense van verskillende nasionaliteite, rasse, godsdienste en sosiale status. . . . En nou is dit vir my en dié wat my ken, baie verbasend dat ek daarvan beskuldig word dat ek verdeeldheid veroorsaak tussen etniese en rassegroepe of dat ek die idee bevorder dat een mens beter is as ’n ander.”

Dit is aanmoedigend om te hoor dat ons broers en susters in Rusland hulle tyd in die hof moedig as geleenthede gebruik om ’n getuienis te gee. Ons weet dat Jehovah die saadjies van waarheid sal seën wat ons plant wanneer ons ons geloof voor amptenare verdedig. – Matteus 10:18.