6 APRIL 2021
RUSLAND
Russiese hof vonnis broer Aleksandr Sjtsjerbina tot drie jaar tronkstraf
JONGSTE NUUS | Russiese appèlhof verminder broer Aleksandr Sjtsjerbina se tronkstraf
Op 24 Junie 2021 het die Krasnodar-gebiedshof by sy beslissing oor broer Aleksandr Sjtsjerbina gebly, maar sy oorspronklike vonnis van drie jaar tronkstraf na twee jaar verminder.
Uitspraak
Op 6 April 2021 het die Abinski-distrikshof van die Krasnodar-gebied broer Aleksandr Sjtsjerbina skuldig bevind en tot drie jaar tronkstraf gevonnis. Hy is in die hof in hegtenis geneem. Aleksandr sal teen die uitspraak appelleer.
Profiel
Aleksandr Sjtsjerbina
Gebore: 1976 (Cholmskaja, Krasnodar-gebied)
Agtergrond: Albei sy ouers is oorlede. Het al gewerk as ’n trokbestuurder, ’n motorwerktuigkundige en ’n timmerman
As jongmens het hy daarvan gehou om basketbal en sokker te speel. In sy vroeë 20’s het hy die Bybel saam met Jehovah se Getuies gestudeer. Nadat hy die vervulling van profesieë gestudeer het, was hy oortuig van die Bybel se betroubaarheid. Gedoop in 1999
Geskiedenis van saak
Owerhede in die Krasnodar-gebied het broer Aleksandr Sjtsjerbina se huis twee keer deursoek, in April en Desember 2020. By albei geleenthede was Aleksandr ondervra en sy Bybels en elektroniese toestelle afgevat.
Aleksandr se kriminele verhoor het op 17 Maart 2021 in die Abinski-distrikshof begin. Net soos die verhore van ons ander broers, het Aleksandr se verhoor vinnig gevorder.
Aleksandr het moedig in die hof gesê: “Die waarheid is dat ek daarvan aangekla word dat ek in God glo en dat ek een van Jehovah se Getuies bly. So ek word aangekla omdat ek my regte uitoefen wat gewaarborg word deur Artikel 28 van die Grondwet van die Russiese Federasie. My godsdiensoortuigings is op die Bybel gebaseer, en daarom is dit die teenoorgestelde van wat ekstremisties genoem word.”
Ons dank Jehovah vir ons broers en susters in Rusland wat aanhou om sulke goeie voorbeelde van moed en geloof te wees. En ons weet dat hulle volharding om “die wil van God” te doen, hulle Jehovah se rykste seën sal meebring. – Hebreërs 10:36.