Spring na inhoud

Links tot regs: Andrei Maglif, Wladimir Koeljasof, Galija Olchowa, Tatiana Aloesjkina, Wladimir Aloesjkin en Denis Timosjin by die Leninski-distrikshof op 5 Desember 2019

17 DESEMBER 2019
RUSLAND

Russiese hof vonnis broer Aloesjkin tot ses jaar tronkstraf, vyf ander word voorwaardelik vrygelaat

Russiese hof vonnis broer Aloesjkin tot ses jaar tronkstraf, vyf ander word voorwaardelik vrygelaat

Op Vrydagoggend 13 Desember 2019 het die Leninski-distrikshof van Penza Wladimir Aloesjkin skuldig bevind en tot ses jaar tronkstraf gevonnis. Hy is dadelik in boeie gesit en tronk toe gevat. Vyf ander, insluitende Wladimir se vrou, Tatiana, was deel van dieselfde hofsaak. Die hof het al vyf (drie broers en twee susters) voorwaardelik vrygelaat, en elkeen ’n opgeskorte tronkvonnis van twee jaar gegee. Al ses broers en susters van Penza sal hulle saak appelleer.

Soos voorheen genoem is, is Wladimir Aloesjkin op 15 Julie 2018 gearresteer nadat omtrent 12 gemaskerde polisiemanne met gewere by sy woonstel ingestorm het. Die polisie het sy woonstel amper vier uur lank deursoek en selfone, elektroniese toestelle, Bybels en ander Bybellektuur afgevat. Die polisie het daardie dag vyf ander huise van Jehovah se Getuies deursoek en het omtrent 40 broers en susters na polisiestasies gevat om ondervra te word.

Die plaaslike owerheid het broer Aloesjkin twee dae lank in ’n tydelike detensie-sentrum aangehou. Daarna het die Perwomaiski-distrikshof van Penza beveel dat hy oorgeplaas word na ’n detensie-sentrum waar hy twee maande lank aangehou is voor sy verhoor. Later het die distrikshof Wladimir Aloesjkin se aanhouding twee keer verleng. Nadat hy amper ses maande in die detensie-sentrum aangehou is, is hy onder huisarres geplaas, waar hy gebly het totdat hy op 13 Desember skuldig bevind is.

Broer Wladimir Koeljasof, Andrei Maglif en Denis Timosjin is drie van die vyf ander Getuies wat saam met broer Aloesjkin krimineel aangekla is en deel was van dieselfde hofsaak. Hulle is onder huisarres geplaas gedurende die ondersoek en die verhoor. Die twee ander is suster Tatiana Aloesjkina en Galija Olchowa. Die owerheid het hulle reis en kommunikasie met ander vanaf Februarie 2019 beperk.

In Augustus 2019 het die Verenigde Nasies se Werkende Groep vir Arbitrêre Opsluiting (WGAD) ’n verslag van 12 bladsye gepubliseer waarin hulle Rusland veroordeel het omdat hulle broer Aloesjkin gearresteer en aangehou het. Volgens die WGAD moes broer Aloesjkin “nooit gearresteer of aangehou word voor sy verhoor nie, en mnr. Aloesjkin moenie verhoor word nie”. Die WGAD dring daarop aan dat “dit net reg sal wees dat [Rusland] mnr. Aloesjkin dadelik vrylaat”. Die regsgeleerdes wat die ses broers en susters in Penza verdedig het, het hulle saak gebaseer op die WGAD se verslag wat internasionaal erken word. Maar in die uitspraak van 13 Desember het die regter gesê dat die hof die 2017-uitspraak van die Russiese Hooggeregshof belangriker beskou as die WGAD se verslag. Die 2017-uitspraak het basies die aanbidding van Jehovah se Getuies verban.

Rusland het hierdie jaar al 18 broers en susters skuldig bevind, waarvan 9 van die broers tot verskillende tydperke gevonnis is. Meer as 40 broers en susters word aangehou voor hulle verhoor en 19 is onder huisarres. Regdeur Rusland word amper 300 broers en susters as gevolg van hulle godsdiens van ’n misdaad aangekla.

Hoewel dit ons hartseer maak om te hoor dat ons broers en susters vervolg word, verbaas dit ons nie. Sulke vervolging is voorspel saam met die belofte dat Jehovah ons liefdevol sal ondersteun. Ons bid dat hulle “die gees van heerlikheid, ja, die gees van God” sal hê. – 1 Petrus 4:12-14.