Spring na inhoud

Die polisie en agente van die Federale Veiligheidsdiens (FSB) deursoek die huis van een van ons broers in 2019 in Nizjni Nowgorod

15 JULIE 2020
RUSLAND

Russiese owerheid deursoek baie van ons broers se huise

Russiese owerheid deursoek baie van ons broers se huise

Volgens ’n amptelike persverklaring het polisiebeamptes met gewere na bewering 110 huise van ons broers op 13 Julie 2020 in die Woronezj-streek deursoek. Dit is die eerste keer vanaf 2017 dat so baie huise van Jehovah se Getuies op een dag deursoek is. Twee broers, Aleksandr Bokof en Dmitrii Katirof, was geslaan en verneder omdat hulle geweier het om vir die polisie die wagwoord van hulle selfone te gee.

Die Leninski-distrikshof in Woronezj het beveel dat al hierdie huise deursoek moet word. Die polisie het huise in ten minste sewe stede en dorpe in die streek deursoek. ’n Paar van ons broers is na die plaaslike kantoor van die Ondersoekkomitee geneem om ondervra te word.

Die volgende dag, op 14 Julie 2020, het die Leninski-distrikshof beveel dat tien broers tot 3 September 2020 in aanhouding geplaas moet word voor hulle verhoor: 44-jarige Aleksei Antioechin, 47-jarige Sergei Bajef, 44-jarige Ioerii Galka, 56-jarige Waleri Goerski, 41-jarige Witalii Neroesj, 24-jarige Stepan Pankratof, 54-jarige Igor Popof, 44-jarige Efgenii Sokolof, 51-jarige Michail Weselof en 51-jarige Anatoli Jagoepof.

Hoewel die persverklaring wat hierbo genoem word, gesê het dat 110 huise deursoek is, het ons tot dusver van 100 Getuie-gesinne bevestiging gekry dat hulle huise en ander eiendomme deursoek is. Hierdie getal kan meer word. Dit is moeilik om al die broers wat betrokke is, te kontak omdat hulle fone en rekenaars afgevat is toe hulle huise deursoek is.

Die vorige rekord vir die grootste hoeveelheid huise wat op een dag deursoek is, is op 10 Februarie 2020, toe die owerheid 50 huise van Getuies in die Transbaikal-gebied deursoek het. Sedert die uitspraak van die Hooggeregshof in 2017 is meer as 1 000 huise van ons broers en susters deursoek.

In die lig van Bybelprofesie is ons nie verbaas oor die vurige beproewinge wat ons broers en susters in Rusland en ander lande deurmaak nie. Ons hou aan bid vir hulle, en ons weet dat Jehovah vir hulle die heilige gees sal gee wat hulle nodig het om getrou te bly. – 1 Petrus 4:12-14, 19.