Spring na inhoud

Broer Dmitri Barmakin saam met sy vrou, Jelena, nadat hy vrygelaat is

19 NOVEMBER 2019
RUSLAND

Russiese regter beveel dat broer Dmitri Barmakin ná 447 dae uit die tronk vrygelaat word

Russiese regter beveel dat broer Dmitri Barmakin ná 447 dae uit die tronk vrygelaat word

Op 18 Oktober 2019 is broer Dmitri Barmakin onder huisarres geplaas nadat hy 447 dae voor sy verhoor in aanhouding was. Hy is nou weer saam met sy vrou, Jelena, met wie hy 13 jaar getroud is.

Broer Barmakin is op 28 Julie 2018 gearresteer toe gewapende en gemaskerde polisiemanne by sy 90-jarige ouma se huis ingebreek het terwyl hy daar gekuier het. Broer Barmakin is daarvan beskuldig dat hy aan die godsdiensvergaderinge van Jehovah se Getuies deelgeneem het. Die Perworetjenski-distrikshof van Wladiwostok het beveel dat Dmitri Barmakin vir twee maande voor sy verhoor in aanhouding gesit moet word. Ná dit het die hof sy aanhouding nog agt keer verleng.

Gedurende een van sy verhore het die hof broer Barmakin se vreedsame aanbidding beskryf as “’n misdaad teen die grondwetlike reg en sekuriteit van die staat”. Hierdie valse klag verskil heeltemal van Artikel 28 van die Grondwet van die Russiese Federasie dat almal hulle “godsdiens en oortuigings vryelik kan kies, beoefen, met ander daaroor praat en daarvolgens lewe”.

Ons is bly dat regter Stanislaf Salnikof van die Perworetjenski-distrikshof van Wladiwostok beveel het dat broer Barmakin uit die tronk vrygelaat word. Maar dit beteken nie dat die kriminele ondersoek teen hom gestop sal word nie.

Ons weet dat Jehovah sal aanhou om ons Russiese broers en susters te versterk en aan te moedig veral die wat in die tronk en onder huisarres is. Net soos broer Barmakin, is hierdie broers en susters goeie voorbeelde van moed en getrouheid vir die wêreldwye broederskap. – Filippense 1:13, 14.