Spring na inhoud

Europese Hof van Menseregte in Straatsburg, Frankryk

10 JUNIE 2020
RUSLAND

Tien jaar ná ’n belangrike uitspraak deur EHMR hou Rusland aan om internasionale wetgewing te ignoreer

Tien jaar ná ’n belangrike uitspraak deur EHMR hou Rusland aan om internasionale wetgewing te ignoreer

Tien jaar gelede, op 10 Junie 2010, het die Europese Hof van Menseregte (EHMR) beslis dat die Russiese regering die menseregte van Jehovah se Getuies erg geskend het. Hulle probeer nou al jare lank om die Getuies se aanbidding stop te sit. Die EHMR se uitspraak het Rusland beveel om ’n groot boete te betaal en om weer die Plaaslike Godsdiensorganisasie van Jehovah se Getuies in Moskou te registreer – wat Rusland in 2004 ontbind het.

Onmiddellik ná die uitspraak het broer Iwan Tsjaikofski, wat toe die voorsitter van die godsdiensgemeenskap van Jehovah se Getuies in Moskou was, gesê: “Hierdie uitspraak wys dat redelikheid oorwin godsdiensonverdraagsaamheid. Ek hoop dat as gevolg van hierdie uitspraak sal die regering vinnig ons wetlike regte herstel en ’n einde maak aan die landwye kampanje van vervolging teen Jehovah se Getuies wat deur die staat ondersteun word.”

Maar dit waarvoor hy gehoop het, het nie gebeur nie. Die Russiese regering het die uitspraak deur die EHMR geïgnoreer. Hulle het eerder ons broers regoor die land selfs erger vervolg. Hierdie vervolging het nog erger geword toe Rusland se Hooggeregshof ons vreedsame aanbidding in 2017 verban het. Ná hierdie ongeregtigheid is baie van ons mede-gelowiges gearresteer, verhoor en tronk toe gestuur.

Hoewel die uitspraak van die EHMR tien jaar gelede teen Rusland gelewer is, geld dit nog steeds. In 2010 het die EHMR baie van die onregverdige klagtes verwerp wat Rusland nog steeds vandag teen ons vreedsame broers en susters maak.

Ter opsomming, die EHMR het tot die slotsom gekom dat Moskou se Departement van Justisie, saam met die howe in Moskou, “geen wetlike grondslag” gehad het om die herregistrasie van Jehovah se Getuies te weier nie. Die Hof het die owerhede in Moskou gekritiseer en gesê dat hulle “nie neutraal en regverdig is, soos hulle moet wees nie”. Die owerhede in Moskou is ook daaraan skuldig dat hulle die Europese Konvensie oor Menseregte geskend het, wat Rusland ingestem het om te gehoorsaam.

In 2020, net soos in 2010, word Rusland se vervolging van ons broers en susters raakgesien. Rachel Denber, adjunk-direkteur van Human Rights Watch vir Europa en Sentraal-Asië, het gesê: “Jehovah se Getuies in Rusland waag hulle vryheid wanneer hulle hulle geloof beoefen. In ’n verklaring op 9 Januarie 2020 het sy bygevoeg: “Daar is absoluut geen geldige rede hoekom dit moet gebeur nie.”

Ons bid en vertrou dat Jehovah sal aanhou om ons broers en susters in Rusland wat onregverdig behandel word, te versterk. Hy sal hulle help om “ten volle [te] volhard met geduld en vreugde”. – Kolossense 1:11.