Spring na inhoud

Broer Wladimir Aloesjkin voordat hy gearresteer en in aanhouding geplaas is

13 NOVEMBER 2019
RUSLAND

VN vra Rusland om broer Aloesjkin vry te laat

VN vra Rusland om broer Aloesjkin vry te laat

Die Verenigde Nasies (VN) se Werkende Groep vir Arbitrêre Opsluiting (WGAD) het ’n verslag van 12 bladsye uitgegee wat Rusland veroordeel omdat hulle broer Wladimir Aloesjkin onwettig gearresteer het en aanhou. In die verslag word Rusland gevra om broer Aloesjkin vry te laat en om hom skadevergoeding te betaal omdat hulle sy regte skend.

Broer Aloesjkin is op 15 Julie 2018 gearresteer nadat omtrent 12 gemaskerde polisiemanne met gewere by sy huis ingestorm het. Die polisie het sy woonstel amper vier uur lank deursoek en selfone, elektroniese toestelle, Bybels en ander lektuur afgevat. Daarna het hulle hom na die polisie-departement geneem om ondervra te word.

Broer Wladimir Aloesjkin in Januarie 2019 by die Perwomaiski-distrikshof van Penza

Broer Aloesjkin is twee dae in ’n tydelike detensie-sentrum aangehou. Daarna het die Perwomaiski-distrikshof van Penza beveel dat hy twee maande in ’n ander detensie-sentrum voor sy verhoor aangehou moet word. Hierdie aanhouding is twee keer deur die hof verleng. Nadat hy amper ses maande in die detensie-sentrum was, is hy onder huisarres geplaas, waar hy vandag nog is.

In die hoop dat broer Aloesjkin vrygespreek en vrygelaat word, het hy ’n aansoek by die WGAD ingedien. Hierdie groep onafhanklike menseregte-kenners werk vir die VN se Raad vir Menseregte. Hulle hersien die sake van mense wat sê dat hulle onwettig deur die polisie in die tronk gesit is of onwettig deur ’n hof onder huisarres of in aanhouding voor of ná hulle hofsaak geplaas is.

Die WGAD het Rusland se bewering dat broer Aloesjkin aan ekstremistiese bedrywighede deelgeneem het, deeglik ondersoek. Hulle het tot die volgende gevolgtrekking gekom: “Alle bedrywighede waaraan mnr. Aloesjkin deelgeneem het, was vreedsame godsdienstige besprekings. Dit is duidelik vir die Werkende Groep dat mnr. Aloesjkin maar net sy reg op godsdiensvryheid uitgeoefen het onder artikel 18 van die Verdrag [Internasionale Verdrag oor Burgerlike en Politieke Regte, waarvan Rusland ’n lid is].” Daarom sê die verslag dat “die Werkende Groep graag wil beklemtoon dat mnr. Aloesjkin nie gearresteer en in aanhouding voor sy verhoor geplaas moes word nie en dat mnr. Aloesjkin nie verhoor moet word nie”. Verder vra die WGAD die Russiese regering om “mnr. Aloesjkin se situasie dadelik reg te stel” en dring hulle daarop aan dat “die gepaste oplossing sou wees om mnr. Aloesjkin dadelik vry te laat”.

Die WGAD het ook erken dat broer Aloesjkin se saak nie uniek in Rusland is nie. Hy is “net een van ’n groeiende aantal Jehovah se Getuies in die Russiese Federasie wat gearresteer is, aangehou word en van kriminele bedrywigheid aangekla word omdat hulle hulle godsdiensvryheid uitoefen”. Dit is ’n reg wat deur internasionale wetgewing beskerm word. Die WGAD het nie net die ongeregtigheid teen broer Aloesjkin veroordeel nie, maar ook die vervolging van al ons broers en susters in Rusland. Daarom het hulle eksplisiet gesê dat hulle verslag nie net van toepassing is op broer Aloesjkin se saak nie, maar op alle Jehovah se Getuies wat “in ’n soortgelyke situasie as mnr. Aloesjkin is”.

Die Russiese regering het nog niks gedoen aan die aanbevelings van die WGAD nie. Die Russiese owerheid in Penza het eerder broer Aloesjkin se saak in Augustus 2019 voor die hof gebring. Die verhore sal op 15, 19 en 22 November 2019 voortgaan.

Hoewel ons hoop dat die Russiese hof die verslag van die WGAD in hulle finale uitspraak in die saak teen broer Aloesjkin in ag sal neem, vertrou ons ten volle, net soos die psalmis, op Jehovah: “Ek sal nie bang wees nie. . . . Jehovah is aan my kant as my helper. . . . Dit is beter om beskerming by Jehovah te soek.” – Psalm 118:6-9.