Spring na inhoud

Kloksgewys van links bo: Broer Andrei Tabakof, broer Michail Zelenski, broer en suster Misin, broer Aleksandr Ganin en broer Choren Chatsjikian

2 OKTOBER 2020
RUSLAND

Vier broers en ’n getroude paartjie kan vir sewe jaar tronk toe gaan in Rusland

Vier broers en ’n getroude paartjie kan vir sewe jaar tronk toe gaan in Rusland

Datum van uitspraak

Op 5 Oktober 2020 a sal die Zaswijazjski-distrikshof van die stad Oeljanowsk sy uitspraak lewer in die saak oor broer Aleksandr Ganin, Choren Chatsjikian, Andrei Tabakof en Michail Zelenski, sowel as broer Sergei Misin en sy vrou, Natalija. Hulle almal sal dalk tronkstraf kry, met vonnisse wat wissel tussen drie tot sewe jaar elk. Die aanklaer het ook gevra dat die hof hulle geld en motors moet afvat – altesaam ongeveer 1,57 miljoen roebel (omtrent R330 000).

Profiel

Aleksandr Ganin

  • Gebore: 1957 (Echabi, Sachalin-eiland)

  • Agtergrond: Is meer as 20 jaar as een van Jehovah se Getuies gedoop. Is nou afgetree en geniet dit om tuin te maak

Choren Chatsjikian

  • Gebore: 1985 (Jerewan, Armenië)

  • Agtergrond: Het ’n graad in ekonomie. Het aan stoeikompetisies deelgeneem toe hy ’n jongmens was. Bekend as ’n saggeaarde en vriendelike man

  • Het die Bybel met Jehovah se Getuies begin studeer omdat hy God beter wou leer ken en volgens sy gebooie wou lewe. Waardeer dat die Bybel homself nie weerspreek nie en dat dit logies is

Sergei Misin

  • Gebore: 1965 (Koelebaki, Nizjni Nowgorod-streek)

  • Agtergrond: Terwyl hy studeer het om ’n ingenieur te word, het hy sy vrou, Natalija, ontmoet. Hulle is in 1991 getroud. Hulle dien Jehovah al meer as 20 jaar saam en het twee kinders, wat al groot is. Geniet sport, veral lacrosse (’n tipe balspel)

Natalija Misina

  • Gebore: 1971 (Lenningrad, wat nou bekend staan as Sint Petersburg)

  • Agtergrond: Is in ’n militêre familie gebore. Het in Duitsland gewoon voordat sy as ’n apteker gegradueer het. Hou daarvan om kos te maak en om te bak

Andrei Tabakof

  • Gebore: 1973 (Minsk, Belarus)

  • Agtergrond: Werk in inligtingstegnologie. Het in 2006 met sy vrou, Marina, getrou. Hulle het die Bybel met Jehovah se Getuies studeer en is gedoop. Geniet dit om met elektroniese toestelle, veral radio’s en rekenaars, te werk

Michail Zelenski

  • Gebore: 1960 (Bulaesti, Moldowa)

  • Agtergrond: Het al as ’n matroos en ’n trokbestuurder gewerk. Het in 1989 met sy vrou, Victoria, getrou. Hulle het in die vroeë 1990’s die Bybel begin studeer. Hulle het lief geword vir Jehovah en is gedoop

Geskiedenis van saak

Sowat drie jaar gelede het Rusland se Federale Veiligheidsdiens (FSB) ons broers en susters in Oeljanowsk begin dophou. Byvoorbeeld, die FSB het die telefoongesprekke van ons broers en susters begin opneem. Op 24 Februarie 2019 het die FSB ’n kriminele saak teen die Misin-gesin en broer Chatsjikian, Tabakof en Zelenski gemaak.

Drie dae later, om vyfuur die oggend, het die polisie die huise van broer Chatsjikian, Tabakof en Zelenski deursoek. Al drie broers is gearresteer en is tydelik in aanhouding gesit. Suster Misina het dieselfde oggend ’n oproep ontvang. Die persoon het vir haar gesê dat haar motor beskadig is en gevra dat sy en haar man, Sergei, buitentoe moet kom. Toe broer Misin die deur oopmaak, het FSB-beamptes by hulle woonstel ingestorm. Hulle het die woonstel deursoek en die gesin se elektroniese toestelle afgevat. Die paartjie is toe gearresteer.

Die volgende dag het die Leninski-distrikshof van die Oeljanowsk-streek broer Misin in aanhouding voor sy verhoor geplaas. Suster Misina en die ander drie broers is onder huisarres geplaas.

Broer Misin was altesaam 55 dae in aanhouding voor sy verhoor en 123 dae onder huisarres. Suster Misina, broer Chatsjikian, Tabakof en Zelenski was tussen 50 en 55 dae onder huisarres.

Op die oggend van 15 Mei 2019 het FSB-beamptes die huis van broer Ganin deursoek en hom gearresteer. Hy was vir twee dae in ’n tydelike tronk.

Al ses verkondigers is nou onder minimale beperkings. Maar die owerheid vervolg hulle nog steeds op ander maniere. Die plaaslike owerheid het die Misin-gesin en broer Tabakof verhoed om geld uit hulle bankrekeninge te trek. Die Misin-gesin het omtrent 500 000 roebel (amper R105 000) in hulle rekening, en broer Tabakof het omtrent 600 000 roebel (amper R125 000) in sy rekening.

Terwyl ons broers en susters in Rusland aanhou vervolg word vir hulle geloof, bid ons dat die volgende woorde van die psalmis sal aanhou om hulle te versterk: “God is ons skuilplek en sterkte, ’n hulp wat maklik gevind kan word in moeilike tye.” – Psalm 46:1.

[Voetnoot]

a Kan heel moontlik verander