Spring na inhoud

Suster Joelija Kaganowitj

11 FEBRUARIE 2021
RUSLAND

Voorbereiding help suster Joelija Kaganowitj om vervolging te verduur

Voorbereiding help suster Joelija Kaganowitj om vervolging te verduur

Datum van uitspraak

Daar word verwag dat die Birobidzjan-distrikshof van die Joodse selfregerende streek op 18 Februarie 2021 a sy uitspraak sal gee in die saak teen suster Joelija Kaganowitj. Die aanklaer het nog nie ’n spesifieke vonnis aangevra nie.

Profiel

Joelija Kaganowitj

  • Gebore: 1966 (Michailofka, Wolgograd-streek)

  • Agtergrond: Sy het gestudeer om ’n siviele ingenieur te word. Toe sy jonk was, het sy ’n dansskool bygewoon, aan ’n musiekskool gegradueer, in ’n orkes gespeel en in ’n koor gesing. Haar man, Aleksandr, is nie een van Jehovah se Getuies nie, maar hy ondersteun Joelija en glo dat die kriminele saak teen haar heeltemal onregverdig is

    Nadat party van haar geliefdes gesterf het, het sy begin dink aan die doel van die lewe. Die Bybel se antwoorde het haar gehelp om vrede en hoop te kry. Is in 1998 gedoop. Bybelbeginsels het haar gehelp om haar huwelik te versterk, haar verhoudings met ander te verbeter en haar seun, Artoer, wat ook een van Jehovah se Getuies is, groot te maak

    Sy het gesondheidsprobleme en die kriminele saak maak haar probleme erger

Geskiedenis van saak

Suster Joelija Kaganowitj sê: “Toe hulle vroegoggend aan my deur geklop het, het ek onmiddellik geweet wie dit was. My hart het vinnig geklop, en al wat ek kon sê was: ‘Help my, Jehovah. Help my, Jehovah.’”

Die godsdiensvervolging van ons 53-jarige suster het op 10 Oktober 2019 in die Russiese stad Birobidzjan begin. Die offisiere van die Russiese Federale Veiligheidsdiens (FSB) het meer as 20 huise van ons broers en susters in dieselfde streek deursoek die oggend toe hulle Joelija se huis deursoek het.

Hierdie tydperk was baie stresvol, maar Joelija en die ander Getuies het sterk gebly omdat hulle voorbereid was.

Joelija sê: “Ons het gereeld by die vergaderinge gesê dat ons huise deursoek kan word en dat ons daarvoor gereed moet wees. Omdat ek geweet het dat dit heel moontlik sou gebeur, het ek myself voorberei vir wat ek sou doen en wat ek sou sê.” Sy voeg by: “Ek het besef hoe belangrik dit is om voor die tyd te dink aan wat ek sou doen. Daarom kon ek vinnig op my voete dink in plaas daarvan om verward en senuweeagtig te wees.”

Soos verwag is, het die Russiese owerhede vinnig kriminele sake ná die soektogte gemaak. Joelija en ander is aangekla van sogenaamde ekstremistiese bedrywighede.

Op 3 Maart 2020 het offisiere die saak aan die Birobidzjan-distrikshof oorgegee. Die saak is vyf maande lank uitgestel as gevolg van die COVID-19-pandemie. Joelija moes op 22 Oktober 2020 teruggaan hof toe.

Joelija sê: “Aan die een kant wou ek nie in hierdie situasie wees nie. Maar aan die ander kant het dit vir my vreugde gegee om Jehovah se soewereiniteit te verdedig.”

Joelija sê verder: “Jesaja 41:10 was presies wat ek nodig gehad het. Ek het die teks uitgedruk en in my huis opgehang sodat ek Jehovah se gerusstellende woorde die heeltyd kon sien. Ek het persoonlik ervaar hoe Jehovah my versterk het toe ek bang was.”

Joelija het hard gewerk om ’n hele paar tekste te memoriseer wat haar gehelp het om kalm, moedig en vreugdevol te bly ten spyte van stresvolle omstandighede.

Laat ons almal wys optree deur onsself nou verstandelik, emosioneel en geestelik vir toekomstige toetse voor te berei. Ons word verseker: “Jehovah sal niks goeds terughou van dié wat ’n weg van integriteit volg nie.” – Psalm 84:11.

a Kan heel moontlik verander.