Spring na inhoud

24 NOVEMBER 2017
RUSLAND

Hof in Oriol verleng Dennis Christensen se aanhouding

Hof in Oriol verleng Dennis Christensen se aanhouding

JONGSTE NUUS: Mnr. Christensen word op die oomblik in aanhouding gehou totdat sy verhoor begin. Sy prokureur het ’n appèlaansoek ingedien sodat hy vrygelaat kan word. Op 22 Desember 2017 het die streekhof in Oriol hierdie appèlaansoek verwerp. Sy aanhouding sal op 23 Februarie 2018 eindig waarna hy weer  in die hof sal verskyn moontlik om krimineel aangekla te word.

Op 20 November 2017, ná ’n drie uur lange verhoor, het die Sowjet-streekhof in Oriol, Rusland, Dennis Christensen se aanhouding tot 23 Februarie 2018 verleng. Dit is die tweede keer dat die hof mnr. Christensen se aanhouding met nog drie maande verleng. Hy is sedert Mei 2017 sonder verhoor aangehou. Hy is gearresteer nadat die polisie ’n vreedsame godsdiensvergadering in Oriol, wat hy bygewoon het, ontwrig het.

Mnr. Christensen is ’n Deense burger en een van Jehovah se Getuies. Voordat hy gearresteer is, het Rusland se Hooggeregshof die bedrywighede van Jehovah se Getuies as ekstremisties verklaar en verban. Die streekhof het weer eens die aanhouding verleng sodat die ondersoekbeampte “bewyse” bymekaar kan maak om hom skuldig te bevind aan beweerde onwettige godsdiensbedrywighede. Die hof het sonder oorweging geweier om hom gedurende die ondersoek onder huisarres te plaas. Die hof het ook die Deense regering se versekering dat hulle nie vir mnr. Christensen ’n paspoort sal gee nie of hom sal help om die land te verlaat nie, geïgnoreer.

Toe mnr. Christensen gearresteer is, het hy en sy vrou, wat ’n Russiese burger is, hulle basiese reg op vryheid van godsdiens en assosiasie uitgeoefen. Die hof kan beveel dat hy tot twee jaar in aanhouding moet bly. As hy skuldig bevind word, kan hy ses tot tien jaar tronkstraf kry.