Spring na inhoud

Jehovah se Getuies sing ’n lied gedurende ’n Christelike vergadering in Rostof-on-Don, Rusland

22 SEPTEMBER 2016
RUSLAND

DEEL 1

Deskundiges verduidelik: Rusland gebruik anti-ekstremistiese wetgewing as ’n taktiek om Jehovah se Getuies as misdadigers te klassifiseer

Deskundiges verduidelik: Rusland gebruik anti-ekstremistiese wetgewing as ’n taktiek om Jehovah se Getuies as misdadigers te klassifiseer

Hierdie is deel 1 van ’n driedelige reeks wat gebaseer is op eksklusiewe onderhoude met erkende vakkundiges op die gebied van godsdiens, politiek en sosiologie, sowel as met kenners van die Sowjet-era en ook die tydperk ná die verbrokkeling van die Sowjetunie.

ST. PETERSBURG, Rusland—Die Hoofaanklaer se Kantoor van die Russiese Federasie probeer om Jehovah se Getuies as “ekstremiste” te verklaar. As die hof ten gunste van die aanklaer beslis, kan dit daartoe lei dat die Getuies se nasionale regsentiteit ontbind word en dat hulle bedrywighede regoor die federasie verbied word. Die Getuies appelleer die aanklagte teen hulle, en die hofsaak sal op 23 September 2016 hervat word.

Die saak teen die Getuies is gebaseer op Rusland se anti-ekstremistiese wetgewing, wat deur vakkundiges as “diskriminerend”, “gebrekkig” en “uiters belaglik” beskryf word.

Dr. Derek H. Davis

Dr. Derek H. Davis, voormalige direkteur van die J.M. Dawson Institute of Church-State Studies by die Baylor-Universiteit, sê: “Die soort ekstremisme wat bekamp moet word, is die soort wat mense se lewens in gevaar stel. Om enigiets anders te bekamp, is op sigself ’n vorm van ekstremisme.”

Dr. Mark Juergensmeyer

Dr. Mark Juergensmeyer, direkteur van die Orfalea Center for Global and International Studies by die Universiteit van Kalifornië, Santa Barbara, verduidelik die rede vir sulke hewige optrede teen ’n vreedsame godsdiensgroep soos die Getuies op die volgende manier: “Om godsdiensvryheid te beperk en dit dan bekamping van ekstremisme te noem, is ’n jammerlike taktiek.” Dr. Jim Beckford, lid van die Britse Akademie, verduidelik verder: “Elemente in die Russies-Ortodokse Kerk span agteraf saam met die regeringsmagte om hulle eie belange te bevorder en om enige oënskynlike kompetisie te onderdruk.”

Dr. Jim Beckford

Deskundiges wys daarop dat die probleem nie net die wantoepassing van die wet is nie, maar ook dat die raamwerk van die wet hierdie wantoepassing moontlik maak. Die SOVA-sentrum vir menseregte in Moskou sê: “Soos ons al verskeie kere gesê het, is die anti-ekstremistiese wetgewing, met sy vae bewoording, die ideale instrument vir die vervolging van politieke teenstanders of ander groepe wat verskil van wat algemeen aanvaar word.

Dr. Emily B. Baran

Dr. Emily B. Baran, assistent-professor van Russiese en Oos-Europese geskiedenis by die Staatsuniversiteit van Middel-Tennessee, redeneer soos volg: “Russiese burgers moet bekommerd wees oor die Staat se besluit om teen die Getuies te diskrimineer, want dit wys dat die Staat bereid is om die regte van ander groepe terug te trek en om soortgelyke maatreëls teen minderheidsgemeenskappe in te stel.

Mediaverteenwoordigers:

Internasionaal: David A. Semonian, Office of Public Information, 1-718-560-5000

Rusland: Yaroslav Sivulskiy, 7-812-702-2691

Suid-Afrika: Mzamo Goloda, +27 11-761-1000