Spring na inhoud

3 MAART 2014
RUSLAND

Russiese appèlhof handhaaf menseregte deur te weier om JW.ORG te verbied

Russiese appèlhof handhaaf menseregte deur te weier om JW.ORG te verbied

Op 22 Januarie 2014 het ’n paneel van drie regters van die Twer-streekhof ’n beslissing deur ’n laerhof om jw.org, die amptelike webwerf van Jehovah se Getuies, te verbied, nietig verklaar. * In teenstelling met ander beslissings wat oor die afgelope paar jaar deur Russiese howe gelewer is, het die Streekhof die wet gehandhaaf en het dit die aanklaer se volgehoue pogings verwerp om die webwerf te laat verbied.

Die staatsgesteunde teistering en vervolging van Jehovah se Getuies in Rusland het vanaf 7 Augustus 2013 baie vererger, toe ’n laerhof in Twer (omtrent 160 kilometer noordwes van Moskou) beslis het dat jw.org verbied moet word in ’n hofsaak wat net 25 minute geduur het. Verteenwoordigers van Jehovah se Getuies is nie van die hofsaak in kennis gestel nie en het nie ’n geleentheid gehad om hulle teen die klagte wat deur die plaaslike aanklaer ingebring is, te verdedig en hulle saak voor die hof te stel nie. Jehovah se Getuies het deur middel van mediaberigte van die beslissing gehoor, net ’n paar uur voordat die sperdatum om appèl aan te teken, 12 September 2013, sou verstryk. Hulle het onmiddellik by die Twer-streekhof appèl aangeteken.

In die appèlverhoor op 22 Januarie 2014 het die Streekhof erken dat die regte van die eienaar van die webwerf, Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc., geskend is en bepaal dat ’n nuwe verhoor gehou moet word sodat albei partye hulle saak kon stel. Die aanklaer, met die ondersteuning van verteenwoordigers van die Ministerie van Justisie en die Ministerie van Binnelandse Sake, het die hof gevra om die webwerf as “ekstremisties” te verklaar en dit regoor Rusland te verbied. Die Streekhof het haar argumente egter verwerp.

’n Landwye veldtog van teistering begin—die wet op ekstremisme word verkeerdelik toegepas om die bedrywighede van Jehovah se Getuies te beperk. Vanaf 2009 het die Russiese owerheid die vae bewoording van die Federale Wet op die Voorkoming van Ekstremistiese Bedrywighede gebruik om Jehovah se Getuies selfs meer te teister. Voorheen was daar net enkele gevalle van teistering, maar nou word daar ’n landwye, georganiseerde veldtog teen Jehovah se Getuies gevoer. Die owerheid regverdig die volgende optrede deur die wet op ekstremisme verkeerdelik toe te pas:

  • die aanhouding van meer as 1 600 Getuies van Jehovah;

  • die verbod op 70 van hulle godsdienspublikasies;

  • klopjagte op 171 huise en plekke van aanbidding; en

  • die ontwrigting van 69 godsdiensvergaderinge tot op hede.

In die Twer-hofsaak wou die aanklaer jw.org laat verbied omdat ses sogenaamde “ekstremistiese” publikasies op die webwerf beskikbaar was. Die Tsentralnii-distrikshof van Twer het die wet op ekstremisme gebruik as die grondslag vir die beslissing wat die hof op 7 Augustus 2013 bereik het om jw.org te verbied en dit op die Federale Lys van Ekstremistiese Materiaal te plaas.

Dit is duidelik dat hierdie beslissing buite verhouding was met die oogmerk wat die hof wou bereik, aangesien geen alternatiewe opsies—byvoorbeeld die verwydering van die sogenaamde “ekstremistiese” publikasies van die webwerf—gebied is nie. Toe die Streekhof in kennis gestel is dat die eienaars reeds alle sogenaamde “ekstremistiese” publikasies in Rusland van jw.org af verwyder het, het dit geredelik tot die slotsom gekom dat daar geen wetlike grondslag was om die webwerf te verbied nie. Die besluit is nou finaal, hoewel die aanklaer ses maande het om appèl aan te teken om die saak ter syde te stel weens onreëlmatighede. Maar die hof is egter nie verplig om dit aan te hoor nie.

Dui die beslissing van die Twer-streekhof aan dat beter tye voorlê?

Nog baie dinge moet reggestel word. Die objektiewe benadering en die uitspraak van die Twer-streekhof vorm ’n skerp teenstelling met die onderdrukkende stappe wat ander Russiese howe teen Jehovah se Getuies geneem het. Die Europese Hof van Menseregte (EHMR) het Rusland al etlike kere veroordeel omdat dit die Getuies se godsdiensvryheid beperk. Eerder as om die bevele van die EHMR uit te voer, maak Rusland hom nog steeds aan menseregteskendings skuldig. Jehovah se Getuies het nog 23 sake teen Rusland wat voor die EHMR hangende is omdat hulle hulle godsdiensvryheid wil verdedig.

Dui die beslissing van die Twer-streekhof aan dat beter tye voorlê? Jehovah se Getuies stel baie belang in Rusland se reaksie op hierdie beslissing en op die toekomstige beslissings van die EHMR.

^ par. 2 As die hof die webwerf verbied het, sou Internetdiensverskaffers in Rusland keer dat mense toegang tot jw.org kry. Die verbod sou ook die owerheid magtiging gee om ’n kriminele klag in te bring teen enigiemand wat dit bevorder.