Spring na inhoud

2 JUNIE 2017
RUSLAND

Streekhof in Oriol sal appèlaansoek teen aanhouding van Dennis Christensen aanhoor

Streekhof in Oriol sal appèlaansoek teen aanhouding van Dennis Christensen aanhoor

Jongste nuus:  Die verhoor wat op 7 Junie 2017 sou plaasvind, is vir ’n onbepaalde tyd uitgestel.

Op 7 Junie 2017 om 2 uur die middag sal die streekhof in Oriol die appèlaansoek teen die aanhouding van die Deense burger Dennis Christensen aanhoor. Mnr. Christensen, ’n ouer man in die gemeente van Jehovah se Getuies in Oriol, is op 25 Mei 2017 in hegtenis geneem toe die polisie ’n klopjag op ’n godsdiensvergadering van die gemeente gedoen het.

As deel van die Russiese regering se aanval op die godsdiensvryheid van Jehovah se Getuies, is hulle Plaaslike Godsdiensorganisasie (LRO) in Oriol van “ekstremistiese bedrywighede” aangekla en in Junie 2016 gelikwideer. Noudat die Hooggeregshof die Administratiewe Sentrum en die LRO’s van Jehovah se Getuies in Rusland gelikwideer het, beweer die Federale Veiligheidsdiens (FSB) dat dit onwettig is om vir aanbidding te vergader. Omdat die Getuies in Oriol ’n godsdiensvergadering gehou het, word hulle daarvan aangekla dat hulle aanhou met die bedrywighede van ’n onwettige ekstremistiese organisasie.

Die FSB het ’n kriminele ondersoek teen mnr. Christensen begin omdat hulle beweer dat hy ’n lid van die gelikwideerde LRO in Oriol is. Maar mnr. Christensen was nog nooit ’n lid van hierdie regsentiteit nie. Omdat hy ’n buitelander is dink die aanklaer dat daar ’n kans is dat hy dalk sal vlug voordat die FSB genoeg bewyse vir hulle saak teen hom bymekaargemaak het. Daarom word hy aangehou totdat sy verhoor op 23 Julie 2017 begin.

Behalwe vir die appèl teen mnr. Christensen se aanhouding, is Jehovah se Getuies besig om hulle aansoeke wat reeds by internasionale howe ingedien was, te hernu. As gevolg van die Hooggeregshof se beslissing word baie van Jehovah se Getuies in Rusland sleg behandel deur hulle gemeenskap en ondervind hulle die negatiewe gevolge van die owerheid se optrede.