Spring na inhoud

7 MEI 2018
RUSLAND

Stadshof in Sint Petersburg beslis teen Jehovah se Getuies in saak oor eiendom

Stadshof in Sint Petersburg beslis teen Jehovah se Getuies in saak oor eiendom

Op 3 Mei 2018 het die stadshof in Sint Petersburg die appèl verwerp wat Jehovah se Getuies ingedien het om die Staat te keer om hulle nasionale kantoor in Solnetsjnoje af te vat. As gevolg van hierdie beslissing kan die Staat nou enige tyd die eiendom afvat.

Hierdie uitspraak bevestig ’n vroeëre beslissing deur die Sestroretski-streekhof. Die hof het vroeër verklaar dat die kontrak wat al 17 jaar oud is en die eiendomsreg van die eiendom in Solnetsjnoje aan die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap van Pennsilvanië oorgedra het, ongeldig is. Deur hierdie kontrak ongeldig te verklaar, kon die hof nou beweer dat die Administratiewe Sentrum van Jehovah se Getuies nog altyd die eiendom besit het. As gevolg hiervan kan die Staat die eiendom afvat omdat die Administratiewe Sentrum in April 2017 deur die hooggeregshof gelikwideer is. Hierdie onregverdige “redenasie” maak dit vir die regering moontlik om die eiendom skynbaar in die naam van die wet af te vat.

Philip Brumley, ’n regsverteenwoordiger vir Jehovah se Getuies, het gesê: “Hierdie beslissing is ’n verskriklike wantoepassing van die wet. Die eiendom is aan God toegewy en is gebruik vir die vreedsame godsdiensbedrywighede van Jehovah se Getuies in Rusland. Eintlik steel die regering die eiendom, en daarom neem ons hierdie ongeregtigheid na die Europese Hof van Menseregte.”