Spring na inhoud

23 NOVEMBER 2018
RUSLAND

Arrestasies en aanhouding van Getuies in Rusland duur voort

Arrestasies en aanhouding van Getuies in Rusland duur voort

Gedurende die maand Oktober 2018 het die plaaslike en federale polisie meer as 30 huise regoor die westelike deel van Rusland deursoek. Ses broers en twee susters is gearresteer en hulle word aangehou vir sogenaamde ekstremistiese bedrywigheid totdat hulle verhoor begin. Op die oomblik is daar 25 broers en susters onregverdig in die tronk, en nog 18 Getuies is onder huisarres.

7 Oktober, Sitsjiofka, Smolensk-streek — Die plaaslike polisie en gemaskerde spesiale magte het vier huise deursoek en twee susters, 43-jarige Natalija Sorokina en 41-jarige Marija Trosjina, gearresteer. Twee dae nadat hulle gearresteer is, het die Leninski-distrikshof ons susters gevonnis en hulle moes tot 19 November 2018 in aanhouding bly. Toe, op 16 November 2018, het die Leninski-distrikshof die susters se aanhouding met ’n verdere drie maande verleng tot 19 Februarie 2019 wanneer hulle verhoor sal word.

9 Oktober, Kirof, Kirof-streek — Ten minste 19 huise is deursoek. Vyf gemeentelike ouer manne is gearresteer en later gevonnis om in aanhouding te bly totdat hulle verhoor begin. Vier van die broers (Maksim Chaltoerin, Wladimir Korobeinikof, Andrei Soeworkof en Efgeni Soeworkof) is Russiese burgers en een, Andrzej Oniszczuk, is ’n Poolse burger. Behalwe Dennis Christensen van Denemarke is broer Oniszczoek die tweede uitlander wat in Rusland vir sy Christelike oortuigings onregverdig aangehou word.

18 Oktober, Djoertjoeli, Republiek van Basjkortostan — Die polisie het ten minste 11 huise deursoek en geld, bankkaarte, foto’s, persoonlike briewe, rekenaars, simkaarte en selfone afgevat. Anton Lemesjef, ’n ouer man, is gearresteer en toe gevonnis om twee maande in aanhouding te bly totdat sy verhoor begin. Op 31 Oktober 2018 is hy uit die tronk vrygelaat en onder huisarres geplaas, waar hy nog steeds is.

Die plaaslike broers en susters is nog steeds in gevaar omdat die polisie hulle huise kan deursoek en hulle besittings onwettig kan wegneem. Maar hulle hou aan om vir diegene te bid wat in die tronk is en om hulle en hulle gesinne te help waar hulle kan. Totdat die situasie opgelos word, bid ons internasionale broederskap tot Jehovah ten behoewe van al sy getroue knegte in Rusland en noem hulle hulle selfs by naam. — Efesiërs 6:18.