Spring na inhoud

26 JUNIE 2017
RUSLAND

Russiese beamptes bedank Jehovah se Getuies, insluitende Deense burger in die tronk, vir uitstekende gemeenskapsdiens

Russiese beamptes bedank Jehovah se Getuies, insluitende Deense burger in die tronk, vir uitstekende gemeenskapsdiens

Briefie van die beamptes in Oriol: “Om dankie te sê vir goeie werk in die gemeenskap en die omgewing.”

NEW YORK—Op 2 Junie 2017 het beamptes van die stad Oriol in Rusland spesiale erkenning gegee aan die plaaslike gemeente van Jehovah se Getuies. Hulle het die Getuies bedank vir hulle deelname op 22 April 2017 aan die jaarlikse poging om die stad skoon te maak. Daar was 70 Getuies wat aangebied het om op hierdie dag vullis op te tel in die strate van Oriol en uit die Orlikrivier wat deur die stad vloei. Beamptes van die stad het vir die Getuies ’n geskenkie gegee en ’n handgeskrewe briefie wat sê: “Om dankie te sê vir goeie werk in die gemeenskap en die omgewing.”

Maar ’n maand ná die skoonmaakpoging en ’n week voordat stadsbeamptes hulle bedank het, is een van die Getuie-vrywilligers, Dennis Christensen (in die foto hierbo), op 25 Mei gearresteer terwyl hy ’n vreedsame godsdiensvergadering bygewoon het. Hy word aangekla van sogenaamde ekstremistiese bedrywighede. Die Russiese owerheid is besig om Jehovah se Getuies regoor die land te vervolg en kla hulle van ekstremistiese bedrywighede aan.

Dennis Christensen help om die stad skoon te maak in Oktober 2011.

David A. Semonian, ’n woordvoerder by die Getuies se wêreldhoofkwartier, sê: “Mense wat Jehovah se Getuies goed ken, is glad nie verbaas dat Dennis en ander van die gemeente vrywillig gehelp het om die stad skoon te maak nie. Hulle doen dit al jare lank en het selfs daarmee volgehou nadat hulle regsentiteit in 2016 gelikwideer is. Jehovah se Getuies in Oriol en in ander stede regoor die wêreld is bekend daarvoor dat hulle goeie burgers is. Daarom maak dit nie sin dat Dennis soos ’n krimineel behandel word nie. Hy is ’n wetsgehoorsame Christen wat ’n positiewe bydrae in sy gemeenskap gemaak het, iets wat deur die beamptes in Oriol erken is. Ons dink dat Dennis onmiddellik vrygelaat moet word. En hy moet toegelaat word om voort te gaan met sy vreedsame aanbidding en positiewe gemeenskapsdiens saam met sy mede-aanbidders.”

Mnr. Christensen is gearresteer amper ’n jaar nadat die plaaslike regsentiteit wat deur die Getuies in Oriol gebruik word, op 14 Junie 2016 gelikwideer is. Mnr. Christensen is aangekla kort nadat die Hooggeregshof van die Russiese Federasie op 20 April 2017 beslis het dat die Administratiewe Sentrum van Jehovah se Getuies in Rusland, naby St. Petersburg, gelikwideer moet word. Mnr. Christensen word deur die owerheid in Oriol aangehou totdat sy verhoor begin.

Mediaverteenwordiger:

David A. Semonian, Office of Public Information, +1-845-524-3000

Suid-Afrika: Mzamo Goloda, +27 11-761-1000