Spring na inhoud

20 DESEMBER 2017
RUSLAND

Nuwe Wêreld-vertaling nog steeds verban in Rusland

Nuwe Wêreld-vertaling nog steeds verban in Rusland

Die Leningrad-streekhof het vandag die Getuies se appèlaansoek verwerp. Hulle het die beslissing geappelleer wat in Augustus deur die stadshof in Vyborg gelewer is. Daardie beslissing het die Nuwe Wêreld-vertaling van die Heilige Skrif (NWT) in Russies verban en dit as “ekstremisties” verklaar. Ongeveer 30 mense het die verhoor bygewoon, insluitende verteenwoordigers van ambassades in Brittanje, Nederland, Switserland en die Verenigde State.

Die hof het ’n deskundige ondersoek van die NWT goedgekeur. Die deskundiges het toe beweer dat die NWT nie ’n Bybel is nie en dat dit “ekstremisties” verklaar moet word. Die Getuies het ’n paar keer gedurende die verhoor duidelik bewys dat die deskundiges bevooroordeeld was en nie bevoeg was om die ondersoek te doen nie.

Die sogenaamde deskundiges was vas oortuig dat die NWT nie ’n Bybel is nie omdat dit nie uitdruklik sê dat dit een is nie. Maar die Getuies het die aandag op bladsy vyf van die 2007-uitgawe van die NWT in Russies gevestig. Daar sê dit duidelik: “Dit is ’n nuwe vertaling van die Bybel in Russies.” Die Getuies het die sogenaamde deskundiges, wat 287 dae lank aan hulle ondersoek gewerk het, bevraagteken omdat hulle hierdie eenvoudige feit in die derde paragraaf in die NWT se voorwoord oorgesien het.

Een van die deskundiges wat deur die hof aangestel is, is ondervra. Sy het haar oorspronklike bewering verdedig deur te sê dat die NWT nie ’n Bybel genoem kan word as dit nie deur die Patriarg goedgekeur is nie, of as dit nie woord vir woord dieselfde as ’n goedgekeurde vertaling is nie. Die “deskundiges” het ook beswaar gemaak teen die gebruik van God se persoonlike naam, Jehovah, en beweer dat die NWT se teks nie sekere kerkleerstellings ondersteun nie. Die regter het enige mosie deur die Getuies vir ’n nuwe onbevooroordeelde deskundige ondersoek van die NWT verwerp.

Nadat die Getuies se appèlaansoek vandag verwerp is, is daar geen ander regsmiddel in die Russiese regstelsel beskikbaar wat die broers kan gebruik om hierdie situasie op te los nie. Hulle sal nou die saak na die Europese Hof van Menseregte neem.

Jehovah se Getuies regoor die wêreld is daarvan oortuig dat geen menslike instelling God se Woord kan uitroei nie. Hulle is ook daarvan oortuig dat huidige pogings om die verspreiding van God se Woord te beperk, uiteindelik sal misluk. — Jesaja 40:8.

Mediaverteenwoordiger:

Internasionaal: David A. Semonian, Office of Public Information, +1-845-524-3000

Suid-Afrika: Mzamo Goloda, +27 11-761-1000