Spring na inhoud

Die Byeenkomssaal in Kolomjazjski, St. Petersburg

25 DESEMBER 2017
RUSLAND

Byeenkomssaal van Jehovah se Getuies word deur die Russiese owerheid afgevat

Byeenkomssaal van Jehovah se Getuies word deur die Russiese owerheid afgevat

Op 14 Desember 2017 het die Russiese owerheid ingebreek by die Byeenkomssaal van Jehovah se Getuies in Kolomjazjski, St. Petersburg. Hulle het die gebou afgesper en beheer van die eiendom geneem. Nie een van die Getuies wat in die saal was, is beseer nie en dit lyk nie of die gebou beskadig is nie.

’n Sekuriteitskamera wys hoe Russiese amptenare by die eiendom inkom

Sedert die beslissing op 17 Julie 2017 deur die appèlafdeling van die Hooggeregshof van die Russiese Federasie, is die Byeenkomssaal die grootste eiendom wat die Russiese owerheid van die Getuies afgevat het. Die hooggeregshof het beslis dat al die regsentiteite van die Getuies in Rusland gelikwideer, hulle bedrywighede verban en hulle eiendomme afgevat moet word.

Amptenare in die Byeenkomssaal

Die Byeenkomssaal het 1 500 sitplekke en is in 2002 reggemaak. Die Byeenkomssaal is vir groot godsdiensvergaderinge en deur plaaslike gemeentes gebruik. Die Getuies se regsverteenwoordigers het uitgevind dat die Byeenkomssaal weer geregistreer is onder die naam van die Russiese Federasie en dat hulle die eiendom besit. Die eiendom is sedertdien oorgedra aan ’n nabygeleë gesondheidsentrum, wat alreeds ’n nuwe kennisgewing op die hek gesit het.

Die inbesitneming volg kort op ’n hofbeslissing wat ’n week vroeër gemaak is. Die hof het gedreig om die eiendom af te vat wat deur die Getuies gebruik word as hulle nasionale hoofkwartier, naby St. Petersburg. Die beslissing het die kontrak wat alreeds 17 jaar lank bestaan tussen die nasionale hoofkwartier van die Getuies in Rusland en die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap ongeldig verklaar. As die beslissing bevestig word, kan die Russiese owerheid hierdie eiendom afvat. Dit kan ook beteken dat die owerheid ander eiendomme in Rusland wat deur die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap besit word, kan afneem.

Jehovah se Getuies dink dat hierdie optrede deur die Russiese owerheid erge godsdiensonverdraagsaamheid is. Hulle het nie net hulle godsdiensvryheid verloor nie, maar hulle eiendom is ook afgevat. Baie van hierdie eiendomme is gekoop en reggemaak deur Russiese burgers wat nie baie geld het nie. Die Getuies maak van alle moontlike maniere gebruik om teen die owerheid se optrede te appelleer. Dit sluit in dat hulle aansoeke by die Europese Hof van Menseregte indien, en klagtes by die VN se Menseregtekomitee.