Spring na inhoud

19 FEBRUARIE 2019
RUSLAND

Dennis Christensen onregverdig veroordeel en tot ses jaar tronkstraf gevonnis

Dennis Christensen onregverdig veroordeel en tot ses jaar tronkstraf gevonnis

Op 6 Februarie 2019 het ons gehoor dat die Zjeleznodorozjni-streekhof in Oriol Dennis Christensen tot ses jaar tronkstraf gevonnis het vir vreedsame aanbidding. Die beslissing word op die oomblik na ’n hoër hof geappelleer.

Die nuus dat Christensen tot ses jaar tronkstraf gevonnis is, het dadelik ’n internasionale reaksie uitgelok. Internasionale organisasies soos die Europese Raad, die Europese Unie, die Verenigde State se Internasionale Kommissie vir Godsdiensvryheid, die Kantoor van die Verenigde Nasies se Hoë Kommissaris vir Menseregte en ander organisasies het gesê dat die Russiese regering onregverdig opgetree het en geen rede gehad het om Dennis Christensen te straf nie.

Die VN se Hoë Kommissaris vir Menseregte, Michelle Bachelet, het ’n verklaring vrygestel wat gedeeltelik gesê het: “Die wrede vonnis wat Christensen gekry het, skep ’n gevaarlike standaard. Dit beteken dat Jehovah se Getuies in Rusland soos kriminele behandel sal word vir hulle geloofsoortuigings, al het hulle die reg op vryheid van godsdiens.” Sy het die Russiese regering gevra om “die Wet op die Teëwerking van Ekstremistiese Bedrywighede te hersien sodat ‘ekstremistiese bedrywigheid’ duidelik gedefinieer kan word en dat net gewelddadige of hatige bedrywighede as ekstremisme beskou kan word”. Me. Bachelet het afgesluit deur die owerheid te vra “om alle klagtes terug te trek en almal vry te laat wat in die tronk is omdat hulle hulle reg op vryheid van godsdiens of geloof, vryheid van mening en vryheid om vreedsaam te vergader, uitgeoefen het”.

Twee dae nadat broer Christensen gevonnis is, het vier bekende Russiese menseregtekenners ’n perskonferensie in Moskou gehou. Die plek waar die konferensie gehou is, was vol mense, en meer as 6 000 het die program van een uur op die Internet gekyk. Al die kenners wat gedurende die program gepraat het, het Jehovah se Getuies verdedig en gesê dat hulle vreedsame mense is wat nie ’n gevaar vir die gemeenskap is nie.

Perskonferensie wat op 8 Februarie 2019 in Moskou gehou is.

Broer Christensen se vrou, Irina, sy regsverteenwoordiger, mnr. Anton Bogdanof, en ’n verteenwoordiger van die Europese Assosiasie van Jehovah se Getuies, Jaroslaf Siwoelski, het ook deelgeneem aan die perskonferensie. Hulle het gepraat oor die onregverdige vonnis en het vrae van die pers beantwoord.

Al is broer Christensen al amper twee jaar lank in die tronk, behou hy sy vreugde en is hy vasbeslote om op Jehovah te vertrou. Net ’n paar dae voordat sy finale beslissing gelewer is, het broer Christensen voor die hof gesê: “Die waarheid kom vroeër of later uit, en dit sal hier ook die geval wees.” Nadat hy Openbaring 21:3-5 gelees het, het hy met oortuiging gesê: “Hierdie woorde . . . beskryf die tyd wanneer God seker sal maak dat daar geregtigheid en ware vryheid vir alle mense sal wees. Vryheid en geregtigheid gaan hand aan hand. God sal seker maak dat dit alles gebeur.”

Broer Christensen wag vir die beslissing in sy appèlsaak terwyl hy in Detensie-Fasiliteit Nr.1 in die Oriol-streek aangehou word. Hy is al die afgelope 20 maande hier in die tronk.

Ons sal aanhou bid dat Jehovah Dennis Christensen, sy vrou en al ons mede-aanbidders regoor Rusland lojaal sal ondersteun. – 1 Petrus 3:12.

Die video Russian Trial Called ‘A Litmus Test For Religious Freedom’ is deur die internasionale mediamaatskappy RFE/RL vervaardig net dae voordat die beslissing bekendgemaak is.