Spring na inhoud

16 MAART 2017
RUSLAND

Aansoek deur Rusland se Departement van Justisie om Jehovah se Getuies te verban

Aansoek deur Rusland se Departement van Justisie om Jehovah se Getuies te verban

Rusland se Departement van Justisie (Departement) het ’n aansoek by die Hooggeregshof ingedien wat vra “dat die godsdiensorganisasie, die Administratiewe Sentrum van Jehovah se Getuies, as ekstremisties verklaar word, dat die bedrywighede daarvan verban word en dat dit gelikwideer word.” Op 15 Maart 2017 is daar ’n kennisgewing op die amptelike webwerf van die Hooggeregshof geplaas wat erken dat die Hooggeregshof die aansoek van die Departement ontvang het. Die Administratiewe Sentrum is later in kennis gestel dat die Hooggeregshof die likwidasie-aansoek sal oorweeg, en die verhoor sal op 5 April 2017 om 10:00 plaasvind.

Indien die Hooggeregshof ten gunste van die aansoek beslis wat deur die Departement gebring is, sal dit ernstige gevolge vir Jehovah se Getuies in Rusland inhou. Dit kan beteken dat die Getuies eiendomme verloor wat vir godsdiensaanbidding gebruik word en dat amper 400 regsentiteite ontbind word. Dit kan ook beteken dat elkeen van die meer as 170 000 Getuies krimineel vervolg sal word net omdat hulle vir aanbidding bymekaar kom, die Bybel saam lees en vir ander mense van hulle geloof vertel.

Wasili Kalin, ’n verteenwoordiger van die Administratiewe Sentrum in Rusland, het gesê: “Dit is die hartsbegeerte van elke Getuie van Jehovah in Rusland om God net in vrede te kan aanbid. Volgens die wet in Rusland is ons hierop geregtig. Maar die owerheid in Rusland verbreek al meer as 100 jaar lank die waarborge van sy eie wette. Ek was maar net ’n seuntjie toe Stalin my familie na Siberië verban het omdat ons Jehovah se Getuies was. Dit is verskriklik hartseer dat my kinders en kleinkinders dalk dieselfde situasie sal moet deurmaak. Ek het nooit gedink dat ons in die hedendaagse Rusland weer met godsdiensvervolging te doen sal kry nie.”