Spring na inhoud

7 APRIL 2016
RUSLAND

Russiese owerheid dreig om die Getuies se nasionale hoofkwartier te sluit

Russiese owerheid dreig om die Getuies se nasionale hoofkwartier te sluit

ST. PETERSBURG, Rusland—Die Russiese owerheid het gedreig om die Administratiewe Sentrum van Jehovah se Getuies in Rusland te sluit.

Die kantoor van die hoofaanklaer van die Russiese Federasie het ’n amptelike waarskuwing uitgestuur in ’n brief gedateer 2 Maart 2016, wat gesê het dat “die godsdiensvereniging gelikwideer sal word” as die administratiewe sentrum nie binne twee maande die “skendings” regstel wat die regering verkeerdelik as “ekstremisties” bestempel het nie. Jaroslaf Siwoelski, ’n verteenwoordiger van Jehovah se Getuies in Rusland, sê: “As ons nasionale entiteit toegemaak word, sal dit beteken dat enige eiendom wat ons besit, gekonfiskeer word en dat die godsdiensbedrywighede van Jehovah se Getuies regoor Rusland verbied word.”

Administratiewe Sentrum van Jehovah se Getuies in Rusland.

Ironies genoeg kom die dreigement gedurende die 25ste herdenking van die eerste keer dat Jehovah se Getuies wetlik geregistreer is in Rusland: die Administratiewe Sentrum is op 27 Maart 1991 geregistreer en is weer op 29 April 1999 geregistreer. Die dreigement om die Getuies se nasionale hoofkwartier, wat in die dorp Solnetsjnoje omtrent 40 km noordwes van St. Petersburg geleë is, te sluit, is die jongste voorval in die owerheid se aanval teen die Getuies. In die laaste jaar het die Russiese owerheid die invoer van die Getuies se godsdienslektuur, insluitende Russiese Bybels, verbied en het dit Rusland ook die enigste land in die wêreld gemaak wat die Getuies se amptelike webwerf, jw.org, verbied het. “Die anti-ekstremistiese wette word verkeerdelik op die aanbidding van Jehovah se Getuies in Rusland toegepas”, sê Mr Siwoelski. “Jehovah se Getuies teken beswaar aan teen hierdie beslissings. Ons wil ons aanbidding vryelik beoefen en ons Bybelonderrigtingswerk vreedsaam uitvoer, soos ons al die afgelope 125 jaar in Rusland doen.”

Maar die Russiese owerheid se vyandigheid teenoor Jehovah se Getuies het toegeneem grootliks weens die invloed van die Russies-Ortodokse Kerk. Internasionale media het berig dat dit wil voorkom of “hierdie noue bondgenootskap tussen die regering en die Russies-Ortodokse Kerk”, soos The New York Times dit beskryf, aggressiewe optrede aanhits, sowel as wetgewing wat daarop gemik is om die bedrywighede van die Getuies en ander godsdiensminderhede in Rusland te onderdruk. Die Associated Press het berig dat die regering se “optrede teen Jehovah se Getuies in Rusland ook aktiviste vir godsdiensvryheid ontstel [het]”. ’n Berig deur Reuters het gesê dat hierdie optrede “Jehovah se Getuies raak en baie ander wat vasgevang is in die wye net van kriminele aanklagte wat onder die Russiese anti-ekstremistiese wet gemaak word”. In Desember 2015 het The Independent berig dat Rusland se wetgewing veronderstel is om “terreuraanvalle en uiters nasionalistiese geweld te verhoed”. Maar dit word ook gebruik “om lede van vreedsame gelowe” soos Jehovah se Getuies, te vervolg, soos op 20 Maart 2016 deur The Huffington Post berig is. Hoewel die Getuies aansoek gedoen het om wetlike vergoeding in plaaslike howe sowel as die Europese Hof van Menseregte, het The Moscow Times op 25 Maart 2016 berig dat Rusland nuwe wetgewing aangeneem het “wat Russiese howe die reg gee om besluite van internasionale howe te verwerp”.

Besoekers in die voorportaal van die Administratiewe Sentrum.

Die Getuies gebruik die Administratiewe Sentrum van Jehovah se Getuies in Rusland om gratis Bybelonderrigtingsprogramme vir Russiese burgers te organiseer en te ondersteun. Ervare bedienaars by die administratiewe sentrum help en is in verbinding met Getuievrywilligers wat noodlenigingswerk in Rusland doen om rampslagoffers te help. Daar is meer as 175 000 Getuies in Rusland, ’n land met ’n bevolking van meer as 146 000 000.

David A. Semonian, ’n internasionale woordvoerder vir die Getuies by hulle wêreldhoofkwartier in New York, sê: “Ons is baie teleurgesteld in die regering se dreigement om ons takkantoor in Rusland te sluit. Jehovah se Getuies en baie ander regoor die wêreld is geïnteresseerd in die verwikkelinge in hierdie saak.”

Mediaverteenwoordigers:

Internasionaal: David A. Semonian, Office of Public Information, tel. +1 718 560 5000

Rusland: Yaroslav Sivulskiy, tel. +7 812 702 2691

Suid-Afrika: Mzamo Goloda, +27 11-761-1000