Spring na inhoud

1 JULIE 2014
RUSLAND

Die Europese Hof van Menseregte handhaaf Jehovah se Getuies in Rusland se reg om vir aanbidding bymekaar te kom

Die Europese Hof van Menseregte handhaaf Jehovah se Getuies in Rusland se reg om vir aanbidding bymekaar te kom

Op 26 Junie 2014 het die Europese Hof van Menseregte (EHMR) ’n beslissing bereik ten gunste van Jehovah se Getuies en hulle reg om te aanbid sonder dat die Russiese owerheid onwettig met hulle bedrywighede inmeng. Die Hof het eenparig beslis dat Rusland Artikel 5 (reg op vryheid en veiligheid) en 9 (vryheid van denke, gewete en godsdiens) van die Europese Konvensie oor Menseregte geskend het toe die polisie op 12 April 2006 ’n onwettige klopjag tydens ’n godsdiensvergadering uitgevoer het.

Op daardie aand het Jehovah se Getuies regoor die wêreld vergader vir ’n jaarlikse godsdiensvergadering waartydens hulle Jesus Christus se dood herdenk. Twee gemeentes in Moskou het ’n skoolsaal vir die spesiale vergadering gehuur, en ’n bywoning van meer as 400 is verwag. Terwyl die vergadering aan die gang was, het onlustepolisie in 10 polisiemotors en twee minibusse daar opgedaag, tesame met ’n gewapende eenheid van die Spesiale Polisiemag (OMON) en tientalle polisiebeamptes in uniforms. Hulle het die gebou vinnig afgebaken en, sonder enige rede vir hulle optrede, die godsdiensvergadering ontwrig. Hulle het almal beveel om die gebou te verlaat, en toe het hulle die saal deursoek, godsdienslektuur gekonfiskeer en 14 manlike bywoners met geweld na die plaaslike polisiestasie geneem en hulle daar aangehou. ’n Prokureur wat gevra is om hierdie Getuies te verteenwoordig, het by die polisiestasie aangekom om hulle te help. Die polisie het hom deursoek, hom op die grond neergegooi, ’n mes teen sy keel gedruk en gedreig dat sy gesin slegte gevolge sou ly as hy ’n klag indien. Ná byna vier uur is die Getuies vrygelaat en toegelaat om huis toe te gaan.

Nikolai Kroepko, hoofaansoeker in die saak

Nikolai Kroepko, en drie ander Getuies wat aangehou is, het ’n saak teen die owerheid gemaak omdat hulle die godsdiensvergadering onwettig opgebreek het en die Getuies onwettig aangehou het. Die Ljoeblino-distrikshof en die Stadshof van Moskou het hulle klag verwerp, en daarom het die mans in Junie 2007 by die EHMR aansoek gedoen.

In die uitspraak wat die EHMR op 26 Junie gelewer het in Krupko and Others v. Russia, het dit gesê: “Dit was nog altyd die hof se mening dat die ontwrigting van ’n vreedsame vergadering deur die polisie nie beskou kan word as iets wat ‘in ’n demokratiese gemeenskap nodig is nie’, selfs in gevalle waar die owerheid nie amptelik in kennis gestel is van ’n openbare geleentheid maar die deelnemers geen gevaar vir die openbare orde inhou nie. ... Hierdie bevinding is [met des te meer rede] van toepassing op die omstandighede van hierdie saak, aangesien die byeenkoms wat ter sprake is, nie ’n luidrugtige buitemuurse geleentheid was nie, maar ’n ernstige godsdiensseremonie in ’n byeenkomssaal, en aangesien daar geen bewyse was dat dit ’n steurnis veroorsaak het of ’n gevaar vir die openbare orde ingehou het nie. Die inmenging van ’n groot aantal gewapende onlustepolisie met die doel om die seremonie te ontwrig en die feit dat hulle die aansoekers in hegtenis geneem en drie uur lank aangehou het, was nie geoorloof om die openbare orde te beskerm nie, al het die owerheid opreg geglo dat die vergadering onwettig was omdat hulle nie vooraf daarvan in kennis gestel is nie.”

Dit is die vierde uitspraak wat teen Rusland gelewer is omdat hulle die regte van Jehovah se Getuies geskend het. In ’n uitspraak wat in 2007 gelewer is in Kuznetsov and Others v. Russia, het die EHMR beslis dat Rusland die Konvensie geskend het toe die plaaslike owerheid onwettig ’n vergadering van gehoorgestremde Getuies in Tsjeljabinsk ontwrig het. In 2010 het die EHMR teen Rusland beslis in Jehovah’s Witnesses of Moscow v. Russia, ’n saak waarin die aanklaer se kantoor in Moskou die Getuies se wetlike entiteit in Moskou onwettig ontbind en verbied het. In 2013 het die EHMR in Avilkina and Others v. Russia beslis dat Rusland fundamentele privaatheidsregte geskend het toe die aanklaer se kantoor in St. Petersburg geëis het dat vertroulike mediese inligting aan hulle bekend gemaak word.

Die uitsprake van die EHMR lewer verdere bewys dat die Russiese owerheid, in hulle pogings om die aanbidding van Jehovah se Getuies in Rusland te onderdruk, die vryhede geskend het wat in die Grondwet van die Russiese Federasie en deur die Konvensie gewaarborg word.