Spring na inhoud

15 SEPTEMBER 2015
RUSLAND

Die herverhoor van 16 van Jehovah se Getuies in Taganrog word uitgestel

Die herverhoor van 16 van Jehovah se Getuies in Taganrog word uitgestel

Die herverhoor van 16 van Jehovah se Getuies in Taganrog, Rusland, is nou in die negende maand. Meer as 20 verhore is die afgelope paar maande gehou, en nog word in Oktober beplan. As hulle skuldig bevind word, kan die Getuies tronkstraf en boetes opgelê word bloot omdat hulle godsdiensvergaderinge bygewoon het, die Bybel gelees het en met medegelowiges geassosieer het.

Beskuldigdes ly weens uitgerekte hofsaak

Sedert die herverhoor vroeër vanjaar begin het, het die beskuldigdes byna 50 dae in die hof deurgebring. Die saak sleep al meer as twee jaar voort, en dit sluit die oorspronklike verhoor in. Dit maak dit die langste kriminele verhoor van Jehovah se Getuies in Rusland.

Omdat die saak so lank voortduur, het dit ’n nadelige uitwerking op die beskuldigdes gehad. Een van hulle, Kirill Krawtjenko, verduidelik: “Ons kan nie werk nie; ons kan nie genoeg tyd met ons gesin deurbring of genoeg rus kry nie.” ’n Hele paar van die beskuldigdes het hulle werk verloor of is gedwing om te bedank as gevolg van die tyd wat die verhoor in beslag neem of omdat daar van hulle sleg gepraat word omdat hulle Jehovah se Getuies is. Weens ’n hofbevel kon hulle Taganrog die afgelope twee jaar nie verlaat sonder om eers amptelike toestemming te verkry nie.

Die hofsaak het die beskuldigdes ook onder geweldige emosionele druk geplaas. “Dit benadeel my gesondheid”, sê Tatjana Krawtjenko. “Ek kan nie aan die slaap raak nie, en ek word in die middel van die nag wakker. Ek dink heeltyd aan die hofsaak, en ek bekommer my daaroor.” Nikolai Trotsjoek, nog ’n beskuldigde, is al etlike kere in die hospitaal opgeneem as gevolg van die stres wat die hofsaak hom veroorsaak het.

Gebeure wat tot die herverhoor in Taganrog gelei het

In 2011 het die polisie ’n geheime kriminele ondersoek teen Jehovah se Getuies in Taganrog gedoen. In 2012 is 16 Getuies aangekla, en in Mei 2013 is die saak vir die eerste keer verhoor. Ná ’n hofsaak van 15 maande het die Stadshof van Taganrog hulle skuldig bevind aan beweerde ekstremistiese bedrywighede. Die regter het almal swaar beboet en het vier van hulle lang vonnisse opgelê, maar hy het hulle onmiddellik die boetes kwytgeskeld en het die tronkvonnisse opgeskort. Die regter het die ander nege Getuies om tegniese redes vrygespreek, maar het nogtans volgehou dat hulle hulle aan ekstremistiese bedrywighede skuldig gemaak het.

Die 16 Getuies het by die Rostof-streekhof appèl aangeteken en gevra dat hulle van alle kriminele aanklagte vrygespreek word. Die staatsaanklaer het ook appèl aangeteken en aangevoer dat die opgeskorte vonnisse te lig is.

Op 12 Desember 2014 het die Rostof-streekhof die appèlsaak verhoor en die beslissing van Taganrog se stadshof tersyde gestel. Maar eerder as om die Getuies vry te spreek, het die Rostof-streekhof die staatsaanklaer se versoek toegestaan en die saak na die Stadshof van Taganrog teruggestuur vir ’n herverhoor voor ’n nuwe regter. Die herverhoor het op 22 Januarie 2015 begin, en die Getuies het verwag dat die regter teen Junie 2015 uitspraak sou lewer. Maar aangesien die Getuies eers weer in Oktober moet voorkom, lyk dit asof die regter eers laat in 2015 ’n beslissing sal bereik.

Moet die wet op ekstremisme vreedsame aanbidding beperk?

Rusland se Federale Wet op die Teëwerking van Ekstremistiese Bedrywighede was oorspronklik bedoel om terrorisme teë te werk, maar party Russiese amptenare het dit verkeerdelik toegepas om vreedsame en wettige aanbidding te beperk. Regoor die land het die owerheid die Getuies se vergaderinge versteur, hulle huise deursoek, hulle lektuur verbied en gekonfiskeer. Hulle het die wet op ekstremisme gebruik om hulle optrede te regverdig. In Taganrog het die owerheid hierdie wet misbruik om die Getuies se plaaslike wetlike entiteit te ontbind en hulle Koninkryksaal te konfiskeer. Die owerheid in Samara en Abinsk het ook onlangs die Getuies se wetlike entiteite ontbind en hulle eiendom gekonfiskeer.

As gevolg van die onderdrukkende optrede van die Russiese owerheid het Jehovah se Getuies 28 aansoeke by die Europese Hof van Menseregte (EHMR) ingedien. Aangesien 22 van hierdie aansoeke met soortgelyke menseregteskendings verband hou, word die aansoeke nou as ’n geheel deur die EHMR in hersiening geneem. Volgens een van die Getuies se prokureurs sal die EHMR moontlik so vroeg as die einde van 2015 uitspraak lewer.

Sal Rusland godsdiensvryheid handhaaf?

Rusland het ’n kritieke punt bereik wat godsdiensvryheid betref. As diegene wat in Taganrog aangekla is, skuldig bevind word, verwag Jehovah se Getuies dat die Getuies moontlik ook in Samara, Abinsk en op ander plekke geregtelik vervolg sal word. Hulle hoop dat die Russiese regering hierdie vervolging sal staak en godsdiensvryheid vir al sy burgers sal handhaaf.

Tydlyn

  1. 9 Junie 2008

    Rostof se streekaanklaer kla Jehovah se Getuies in Taganrog aan van beweerde ekstremistiese bedrywighede.

  2. 11 September 2009

    Die Rostof-streekhof verklaar 34 godsdienspublikasies van Jehovah se Getuies as ekstremisties en verbied die Plaaslike Godsdiensorganisasie van Jehovah se Getuies in Taganrog (LRO).

  3. 8 Desember 2009

    Die Hooggeregshof van die Russiese Federasie bevestig die beslissing wat die Rostof-streekhof in September 2009 bereik het.

  4. 1 Maart 2010

    Die Departement van Justisie plaas die 34 publikasies wat die Rostof-streekhof as ekstremisties verklaar het, op die Federale Lys van Ekstremistiese Materiaal. Die owerheid konfiskeer die Koninkryksaal van Jehovah se Getuies in Taganrog.

  5. 1 Junie 2010

    Jehovah se Getuies in Taganrog maak die saak Taganrog se LRO en ander teen Rusland by die Europese Hof van Menseregte aanhangig.

  6. 30 April 2011

    Die geheime polisie begin om in die geheim video-opnames te maak van die Getuies se godsdiensbedrywighede in Taganrog.

  7. 6 Julie 2011

    Die owerheid plaas Taganrog se LRO op die Federale Lys van Ekstremistiese Organisasies.

  8. Augustus 2011

    Die plaaslike owerheid begin met ’n kriminele ondersoek teen Jehovah se Getuies in Taganrog en deursoek 19 huise.

  9. 31 Mei 2012

    Die eerste aanklagte teen Jehovah se Getuies in Taganrog vir hulle godsdiensbedrywighede word ingedien.

  10. Mei 2013

    Die verhoor van 16 Getuies wat van ekstremisme aangekla is, begin in die Stadshof van Taganrog.

  11. 29-30 Julie 2014

    Sewe van die Getuies word deur die Stadshof van Taganrog aan vermeende ekstremistiese bedrywighede skuldig bevind. Later teken al 16 beskuldigdes asook die staatsaanklaer appèl aan.

  12. 12 Desember 2014

    Die saak word na die Stadshof van Taganrog teruggestuur vir ’n herverhoor voor ’n nuwe regter.

  13. 22 Januarie 2015

    Die herverhoor van 16 Getuies begin in Taganrog se stadshof.

^ par. 44 “Die nakoming van verpligtinge deur die Russiese Federasie”, Resolusie 1896 (2012), Parlementêre Vergadering van die Europese Raad, paragraaf 25.31.

^ par. 45 “Slotopmerkings oor die Sewende Periodieke Verslag van die Russiese Federasie”, VN se Menseregtekomitee, paragraaf 20.