Spring na inhoud

2 JULIE 2013
RUSLAND

Europese Hof beskerm privaatheidsregte van Jehovah se Getuies

Europese Hof beskerm privaatheidsregte van Jehovah se Getuies

NEW YORK—Op Donderdag 6 Junie 2013 het die Europese Hof van Menseregte (EHMR) Rusland beveel om 5 000 euro (R65 000) skadevergoeding aan Me. V. Zjoekowa en Me. Y. Awilkina onderskeidelik te betaal. Russiese amptenare het die private mediese rekords van Me. V. Zjoekowa en Me. Y. Awilkina sonder hulle toestemming verkry. Die Hof het beslis dat hierdie daad ’n skending is van fundamentele privaatheidsregte, wat hulle beskryf het as “’n noodsaaklike beginsel” wat deur die Europese Konvensie gewaarborg word.

Die Hof se beslissing is die uitkoms van ’n regstryd van meer as vyf jaar. In 2007 het ’n adjunk-stadsaanklaer van St. Petersburg mediese instansies in die stad beveel om die stadsaanklaer se kantoor in kennis te stel van “elke weiering van ’n bloedoortapping of enige bloedkomponente deur Jehovah se Getuies”—sonder om die pasiënte in te lig of hulle toestemming te vra. Daarom het die Getuies op 9 Maart 2009 die aansoek Awilkina en ander v. Rusland by die EHMR ingedien. In sy beslissing het die Hof Rusland se dade as “onderdrukkend” bestempel en bevestig dat daar geen “relevante of voldoende redes” was om hierdie private inligting aan staatsamptenare te verstrek nie.

Grigori Martinof, ’n woordvoerder vir Jehovah se Getuies in Rusland, sê met verwysing na die positiewe uitkoms van die saak: “Hierdie besluit deur die Hof sal die basiese regte beskerm van alle Russiese burgers, asook van die groter internasionale gemeenskap in die Europese Raad.”

Mediaverteenwoordiger(s):

Internasionaal: J.R. Brown, Office of Public Information, tel. +1 718 560 5000

Rusland: Grigori Martinof, tel. +7 812 702 2691

Suid-Afrika: Mzamo Goloda, +27 11-761-1000