Spring na inhoud

10 APRIL 2015
RUSLAND

Russiese Getuie vind 6 000 euro en besorg dit terug aan die eienaar

Russiese Getuie vind 6 000 euro en besorg dit terug aan die eienaar

ST. PETERSBURG, Rusland—In November 2014 het Swetlana Nemtsjinowa, een van Jehovah se Getuies, ’n koevert op die straat gevind wat 6 000 euro (meer as R82 000) bevat het. Nadat sy lank vir die eienaar gesoek het, kon sy die geld vir hom teruggee. Daar is oor me. Nemtsjinowa se onselfsugtigheid verslag gelewer op die televisie, die radio en in etlike aanlyn nuusberigte.

Me. Nemtsjinowa is ’n straatveër in die stad Wologda, ongeveer 450 kilometer noordoos van Moskou. Terwyl sy gewerk het, het sy ’n koevert op die straat sien lê. Toe sy daarin kyk, het sy ’n groot som geld gevind. Hoewel me. Nemtsjinowa en haar drie kinders in ’n nederige 12 vierkante meter woonstel woon, sê sy: “Ek het nie eens daaraan gedink om die geld te hou nie. Ek het dadelik aan die persoon gedink wat ongetwyfeld baie sleg gevoel het.”

In ’n poging om die eienaar te vind, het me. Nemtsjinowa eers ’n kennisgewing op nabygeleë geboue geplaas. Toe niemand daarop reageer nie, het me. Nemtsjinowa die geld na ’n nabygeleë bank geneem, want daar was ’n kwitansie in die koevert met die bank se naam daarop. Die bank het vasgestel dat die geld aan Pawel Smirnof behoort. Nadat die bank mnr. Smirnof etlike kere probeer kontak het, kon die bank hom uiteindelik inlig dat me. Nemtsjinowa sy geld gevind het.

’n Artikel wat in die Russiese koerant Premier gepubliseer is, sê: “Swetlana dink glad nie dat sy iets besonders gedoen het nie. Sy is ’n godsdienstige persoon en lees die Bybel gereeld.” Me. Nemtsjinowa het verder aan die Premier verduidelik dat sy so opgetree het omdat sy die Gulde Reël, soos dit dikwels genoem word, in Matteus 7:12 toegepas het: “Alles wat julle dan wil hê dat die mense aan julle moet doen, moet julle ook net so aan hulle doen.”

Die kunstenaar Pawel Smirnof saam met Swetlana Nemtsjinowa nadat sy sy verlore geld aan hom terugbesorg het.

Mnr. Smirnof, ’n kunstenaar wat ’n spesiale soort verf ontwikkel het, het die geld gespaar om gespesialiseerde toerusting te koop om verdere navorsing te doen oor kleurstofsamestellings. “Woorde kan nie beskryf hoe dankbaar ek teenoor Swetlana is nie”, het mnr. Smirnof gesê. “Ná wat Swetlana gedoen het, is ’n mens se vertroue in ander herstel. Daar bly net een ding oor om te sê: ‘Daar is ’n God!’”

Mediaverteenwoordiger(s):

Internasionaal: J.R. Brown, Office of Public Information, tel. +1 718 560 5000

Rusland: Jaroslaf Siwoelski, tel. +7 812 702 2691

Suid-Afrika: Mzamo Goloda, +27 11-761-1000