Spring na inhoud

2 DESEMBER 2015
RUSLAND

Taganrog se Stadshof bevind 16 van Jehovah se Getuies skuldig weens godsdiensbedrywighede

Taganrog se Stadshof bevind 16 van Jehovah se Getuies skuldig weens godsdiensbedrywighede

Ná ’n herverhoor van 11 maande het Taganrog se Stadshof 16 van Jehovah se Getuies op kriminele aanklagte skuldig bevind omdat hulle vreedsame godsdiensvergaderinge georganiseer en bygewoon het. Die hof se beslissing berus op ’n kriminele wet wat persone straf wat ekstremistiese bedrywighede organiseer en daaraan deelneem. Die streekhof kon die Getuies skuldig bevind omdat vroeër, in 2009, die Russiese wet op ekstremisme verkeerdelik toegepas het. *

Op 30 November 2015 het regter A.W. Wasjoetsjenko vier van die Getuies tot meer as vyf jaar gevangenisstraf gevonnis omdat hulle godsdiensbedrywighede georganiseer het, en elkeen van hulle is ook ’n boete van 100 000 roebel (R23 500). opgelê. Die regter het die ander 12 beskuldigdes boetes van 20 000 tot 70 000 roebel (R4 700 tot R16 000) opgelê. Maar die regter het die vonnisse onmiddellik opgeskort en hulle die boetes kwytgeskeld. Dit is nog nie duidelik wat die implikasies van die opgeskorte vonnisse vir die veroordeeldes is nie. Met hierdie uitspraak word die beskuldigdes nietemin as misdadigers bestempel.

’n Moeilike besluit

Die meer as 800 Getuies in Taganrog is besorg oor wat die gevolge sal wees as hulle vreedsaam vergader om die Bybel te bespreek en om te bid. Al die beskuldigdes het gedurende die verhoor duidelik gesê dat hulle nie sal ophou om Jehovah se Getuies te wees nie. Maar die uitspraak sal dalk hulle vasberadenheid om by hulle besluit te bly, op die proef stel. “Die hof het in werklikheid vir ons gesê: ‘Verloën julle geloof of word as ’n gewoontemisdadiger behandel’”, het Aleksandr Skwortsof, een van die veroordeeldes, gesê.

Getuies in ander dele van Rusland is bekommerd ná die uitspraak in Taganrog. Soos in Taganrog, het owerhede in Samara en Abinsk die Wet op die Teëwerking van Ekstremistiese Bedrywighede verkeerdelik op die Getuies se vreedsame aanbidding toegepas en het hulle die regsentiteite van die plaaslike Getuies ontbind. Solank Russiese amptenare hierdie taktiek gebruik, verwag Jehovah se Getuies dat hulle vryheid van aanbidding in Rusland bedreig sal word.

Die stryd om godsdiensvryheid duur voort

Hierdie besluit is ’n aanduiding van die toenemende druk deur die Russiese owerheid om die godsdiens van Jehovah se Getuies te onderdruk. In die afgelope jaar het Russiese amptenare twee plaaslike regsentiteite van Jehovah se Getuies as ekstremisties verklaar. Sedert Maart 2015 het die owerheid geweier dat die Getuies enige godsdienslektuur, selfs Bybels, invoer. In Julie het Rusland die twyfelagtige onderskeiding gekry as die enigste land ter wêreld wat die amptelike webwerf van Jehovah se Getuies, jw.org, verban het. Die Getuies staan hierdie negatiewe besluite in die plaaslike howe teë en het 28 aansoeke ingedien by die Europese Hof van Menseregte waarin hulle regstelling vir die skending van menseregte in Rusland eis.

Die 16 Getuies in Taganrog sal teen hierdie uitspraak appelleer, en dit sal nog ’n hoofstuk in hulle lang regstryd inlui. “Die hofsaak sleep al twee en ’n half jaar voort”, sê Jaroslaf Siwoelski, ’n verteenwoordiger van die Administratiewe Sentrum van Jehovah se Getuies in Rusland. “Dis ’n jammerte dat hulle weer in die hof moet verskyn, en dit net om hulle basiese reg tot godsdiensvryheid, wat in die grondwet gewaarborg word, te verdedig.”

Jehovah se Getuies is nie ekstremiste nie. Hulle godsdiensvergaderinge word daaraan gewy om mense liefde vir God en hulle naaste te leer. Getuies in Taganrog bespreek by hulle weeklikse vergaderinge dieselfde inligting as hulle medegelowiges regoor die wêreld. Ten spyte van die meer as 1 700 geboekstaafde oortredings deur die Russiese owerheid het Jehovah se Getuies hulle nooit uit protes aan burgerlike ongehoorsaamheid skuldig gemaak nie.

Jehovah se Getuies hoop dat die Russiese owerheid sal insien dat die godsdiensbedrywighede van die Getuies vreedsaam van aard is en dat die owerheid sal ophou om hulle in Taganrog en op ander plekke te vervolg. Die regering behoort dieselfde fundamentele vryheid aan Jehovah se Getuies toe te staan wat ander goedgevestigde en erkende godsdienste geniet.

Tydlyn van die herverhoor *

  1. 22 Januarie 2015

    Herverhoor van die 16 Getuies begin in Taganrog se Stadshof.

  2. Junie 2015

    Die regter stel die verhore uit, en die uitspraak word eers heelwat later in die jaar gelewer.

  3. 13 November 2015

    Die regter verdaag die hof om te beraadslaag.

  4. 30 November 2015

    Die Taganrog se Stadshof bevind al 16 Getuies skuldig. Almal word boetes opgelê en vier word tot meer as vyf jaar tronkstraf gevonnis. Die regter skort die vonnisse op.