Spring na inhoud

Die Leningrad-streekhof waar die appèlverhoor plaasgevind het

27 DESEMBER 2017
RUSLAND

Russiese hof weier appèlaansoek en bevestig beslissing wat Bybel as “ekstremisties” verklaar

Russiese hof weier appèlaansoek en bevestig beslissing wat Bybel as “ekstremisties” verklaar

’n Appèlhof het die vroeëre beslissing bevestig wat die Nuwe Wêreld-vertaling van die Heilige Skrif in Russies as ’n “ekstremistiese” publikasie verklaar. Hierdie beslissing is finaal en bevestig dat hierdie Bybel verban is en binnekort by die Federale Lys van Ekstremistiese Materiaal gevoeg sal word. Dit is nou ’n kriminele oortreding vir enigiemand om die Nuwe Wêreld-vertaling te versprei. Selfs die besit van ’n persoonlike kopie kan veroorsaak dat ’n mens ’n swaar boete kry of dat iets ergers kan gebeur.

Hof ignoreer ’n gebrek aan bewyse van getuienis deur “deskundige”

Op 20 Desember 2017 het die Leningrad-streekhof die beslissing van die stadshof in Vyborg onveranderd gelaat, al kon die aanklaer of die “deskundiges” wat deur die hof gekies is, nie bewys waarom hulle die Nuwe Wêreld-vertaling as “ekstremisties” verklaar het nie. Die hofbeslissings is gebaseer op ’n enkele “deskundige” ondersoek wat hierdie moderne vertaling van die Bybel in Russies kritiseer.

Die streekhof se drie regters het erken dat van die bevindings in die ondersoek van die Nuwe Wêreld-vertaling nie ooreenstem nie. Hulle het ook die “deskundiges” wat die ondersoek gedoen het, ingeroep om hulle te ondervra. Die presiderende regter, Larisa Gorbatowa, het me. Krjoekowa, die hoofdeskundige, gevra of die Nuwe Wêreld-vertaling ’n Bybel is. Me. Krjoekowa het geantwoord dat dit nie een is “in die tradisionele sin van die Ortodokse Christelike godsdiens” nie. Toe een van die regsverteenwoordigers me. Krjoekowa gevra het om ten minste een vers aan te haal wat wys dat die Bybel ekstremisties is, kon sy nie ’n antwoord gee nie. Regter Gorbatowa het later vir me. Krjoekowa gevra wat daar in hierdie vertaling is wat dit ekstremisties maak, maar sy het geweier om te antwoord en gesê dat dit “’n regskwessie” is.

Toe een van die regsverteenwoordigers gevra het hoe hulle bepaal of die Nuwe Wêreld-vertaling ’n Bybel is of nie, het me. Krjoekowa gesê dat dit deur die Patriarg (of aartsbiskop) goedgekeur moet word, of woord vir woord dieselfde moet wees as ’n goedgekeurde vertaling. Me. Krjoekowa is toe gevra waarom die ondersoek tot die gevolgtrekking gekom het dat die Nuwe Wêreld-vertaling “nie ’n voldoende vertaling [is] nie”. Toe sy en die ander “deskundiges” nie duidelike bewyse kon gee nie, het die hof die ondervraging van die “deskundiges” beëindig.

Die Getuies se regsverteenwoordigers het die hof gevra om bewyse te aanvaar wat wys dat die “deskundiges” bevooroordeeld is en van hierdie bewyse het getoon dat die ondersoek baie inligting van Wikipedia en ’n Ortodokse teologiestudent ingesluit het. Die regters het die versoek goedgekeur, maar het alle petisies verwerp om gekwalifiseerde deskundiges toe te laat om die Nuwe Wêreld-vertaling te ondersoek en die saak weer te verhoor.

Wat is die doel van hierdie aanval op die Bybel?

Gedurende die slotargumente het ’n regsverteenwoordiger van die Getuies die hof gevra: “Wat is die punt wat die aanklaer se kantoor probeer maak? Wat probeer hulle bereik? Dat honderde duisende mense wat Russies praat en hierdie Bybel lees, dit verbrand? Of as hulle dit nie wil verbrand nie, dat hulle krimineel vervolg sal word?”

Baie van Jehovah se Getuies in Rusland is bang as gevolg van die owerheid se onredelike optrede in die toepassing van vorige beslissings wat die Getuies se lektuur as “ekstremisties” verklaar het. Rusland se ekstremistiese wetgewing verbied die verspreiding van lektuur. Dit verbied ook die aanhouding van lektuur in groot hoeveelhede met die doel om dit te versprei. Maar Rusland se wetstoepassingsowerhede het hierdie wet te ver gevat. Hulle het die huise van die Getuies deursoek en geregtelike stappe teen hulle geneem net omdat hulle ’n paar publikasies besit vir persoonlike gebruik. Die owerheid het ook ’n desperate poging aangewend om bewyse te vervals deur ’n paar kopieë van die lektuur wat verban is, in die Getuies se plekke van aanbidding weg te steek. Hulle het toe hierdie “ontdekking” van die lektuur gebruik as ’n grondslag om die Getuies se regsentiteite te likwideer en selfs kriminele aanklagte teen die Getuies te bring.

Sal die Getuies se huise meer aggressief deursoek word? Sal daar administratiewe of kriminele aanklagte teen hulle gebring word net omdat hulle ’n Nuwe Wêreld-vertaling besit? Ons sal moet wag en sien hoe die Russiese owerheid hierdie beslissing gebruik as net nog ’n wapen om die Getuies se godsdiensvryheid te beperk.