Spring na inhoud

11 DESEMBER 2017
RUSLAND

Russiese hof stel die appèlsaak uit om die Bybel as “ekstremisties” te verklaar

Russiese hof stel die appèlsaak uit om die Bybel as “ekstremisties” te verklaar

Op 6 Desember 2017 het die Leningrad-streekhof die Getuies se appèlaansoek verhoor. Dit volg op die laerhof se beslissing om die Nuwe Wêreld-vertaling van die Heilige Skrif in die Russiese taal te verban.

Die verhoor het begin met ’n argument deur die Getuies se regsverteenwoordigers teen die beslissing van die stadshof in Vyborg. Hierdie beslissing het uitsluitlik staatgemaak op ’n “deskundige” ondersoek wat die grondslag van hierdie saak was. Die stadshof het nie na ’n enkele verwysing in die Nuwe Wêreld-vertaling verwys wat as “ekstremisties” beskou kan word nie. Die hof het eerder op die ondersoek se gevolgtrekking gefokus dat die Nuwe Wêreld-vertaling “ekstremisties” is omdat dit God se naam, Jehovah, gebruik. Die Getuies se regsverteenwoordigers het die hof daaraan herinner dat God se naam ’n invloed op Rusland se ryk kulturele geskiedenis gehad het en dat dit in baie Bybelvertalings voorkom. Hulle het ook nie saamgestem met die ondersoek se valse verklaring dat die Nuwe Wêreld-vertaling nie ’n Bybel is nie omdat dit nie uitdruklik sê dat dit een is nie. Om hierdie verklaring verkeerd te bewys, het hulle die voorwoord van die 2007-uitgawe aangehaal wat sê: “Dit is ’n nuwe vertaling van die Bybel in Russies.”

Die saak is uitgestel tot 20 Desember 2017 om 14:30 omdat die Leningrad-streekhof besluit het om die span deskundiges vir ondervraging in te roep.