Spring na inhoud

24 JULIE 2017
RUSLAND

Hof in Oriol beslis dat Dennis Christensen langer in aanhouding moet bly

Hof in Oriol beslis dat Dennis Christensen langer in aanhouding moet bly

Op 20 Julie 2017 het die Sowjet-streekhof in Oriol beslis dat Dennis Christensen nog steeds in aanhouding moet bly tot 23 November 2017 wanneer hy weer in die hof sal verskyn. Mnr. Christensen, ’n Deense burger en een van Jehovah se Getuies, het op 25 Mei ’n vreedsame godsdiensvergadering van Jehovah se Getuies in Oriol bygewoon. Agente van die Federale Veiligheidsdiens en gemaskerde polisiebeamptes met wapens het die vergadering ontwrig en hom gearresteer.

Sy regsverteenwoordigers het ’n aansoek vir sy vrylating op borgtog ingedien. Hulle het ook reëlings getref vir die betaling van hierdie borgtog. Maar die hof het die aansoek verwerp al het mnr. Christensen nie ’n kriminele rekord nie en al is hy nie bekend as iemand wat gewelddadig is nie.

Mnr. Christensen se verdere aanhouding volg kort op die beslissing op 17 Julie deur die appèlafdeling van die Hooggeregshof in Rusland. Hierdie beslissing het die hof se vorige beslissing bevestig om al die regsentiteite van die Getuies te likwideer, en hulle bedrywighede regoor die land te verban. Die Russiese owerheid het die Getuies meer as tien jaar lank vervolg en hulle as “ekstremiste” probeer uitmaak. Die owerheid het dit nou reggekry om die Getuies se godsdiensbedrywighede te kriminaliseer op ’n manier wat op die oog af wetlik lyk.

Kate M. Byrnes is die waarnemende Chargé d’Affaires van die Amerikaanse afvaardiging na die Organisasie vir Veiligheid en Samewerking in Europa. Sy het gesê: “Ons is geskok deur die Hooggeregshof se beslissing op 17 Julie wat bevestig dat die bedrywighede van Jehovah se Getuies verban word, en dat die Administratiewe Sentrum van Jehovah se Getuies en die 395 plaaslike godsdiensorganisasies daarvan op grond van beweerde ‘ekstremistiese bedrywighede’ ontbind word. Dit is verskriklik dat die 175 000 Jehovah se Getuies in Rusland nou krimineel vervolg kan word net omdat hulle hulle godsdiens beoefen. Die feit dat wetgewing in verband met ‘ekstremisme’ al hoe meer gebruik word om lede van vreedsame godsdiensminderheidsgroepe in Rusland onregverdig te vervolg, is ontstellend.”