28 JUNIE 2017
RUSLAND
Hof verwerp appèlaansoek om Dennis Christensen vry te laat
Op 21 Junie 2017 het die streekhof in Oriol die appèlaansoek verwerp om Dennis Christensen vry te laat. Mnr. Christensen, ’n Deense burger, was op 25 Mei 2017 gedurende ’n klopjag gearresteer omdat hy deelgeneem het aan ’n godsdiensvergadering van Jehovah se Getuies. Die klopjag is gedoen deur agente van die Federale Veiligheidsdiens (FSB) en gemaskerde polisiebeamptes met wapens.
Die Hooggeregshof van die Russiese Federasie het onlangs die regsentiteite van Jehovah se Getuies in Rusland as “ekstremisties” verklaar en beslis dat hulle bedrywighede onmiddellik beëindig moet word. Gedurende die klopjag is daar vir die Getuies gesê dat hulle daarvan aangekla kan word dat hulle voortgaan met die bedrywighede van ’n organisasie wat gelikwideer is vir ekstremisme. Die FSB het ’n hofbevel aangevra om mnr. Christensen op te sluit totdat sy verhoor op 23 Julie 2017 begin. Hoewel hy ’n vreedsame persoon is en geen kriminele rekord het nie, word hy aangehou sodat bewyse bymekaargemaak kan word om ’n saak van ekstremisme teen hom te maak.
Jehovah se Getuies appelleer teen die onregverdige beslissing deur die Hooggeregshof. Hulle is ook besig om ’n saak voor te berei om hulle reg te verdedig om voort te gaan met vreedsame aanbidding sonder inmenging soos gewaarborg deur die Russiese grondwet en die Europese Konvensie oor Menseregte.