Spring na inhoud

11 FEBRUARIE 2013
RUSLAND

‘Ons lewe nie in 1937 nie’

‘Ons lewe nie in 1937 nie’

Op 16 April 2012 is Aleksandr Solofjof, een van Jehovah se Getuies, in die stad Perm, Sentraal-Rusland, ’n boete van 1 000 roebel (ongeveer R300) opgelê omdat hy ‘ongemagtigde godsdiensvergaderinge’ in ’n gehuurde saal gereël het.

Nadat die regter van ’n distrikshof aandagtig na al die “bewyse” teen Solofjof geluister het, het hy die beslissing van ’n laer hof tersyde gestel en die boete gekanselleer.

Die regter het die beslissing voorgelees en toe na die vrygespreekte Getuie gedraai en gesê: “Ondanks die inkonsekwente wetgewing en die bevooroordeelde beskouing van party mense lewe ons nie in 1937 toe ons eenvoudig ons oë vir die ooglopende feite kon sluit nie. Mag ons gemeenskap se standaarde en sedelike waardes verbeter danksy die opvoedkundige werk wat julle doen.

In Julie 1937 het die Sowjetdiktator Stalin verordening 00447 uitgevaardig, wat ’n tyd van verskrikking ingelui het. Diegene wie se sienswyse as afwykend beskou is, is in hegtenis geneem en in skynverhore aangekla. Amptelike verslae toon dat tienduisende mense na werkkampe gestuur is en meer as 300 000 ter dood veroordeel en tereggestel is.