Spring na inhoud

1 OKTOBER 2014
RUSLAND

Getuies appelleer by die Hooggeregshof van die Russiese Federasie teen die likwidasie van hulle regspersoon in Samara

Getuies appelleer by die Hooggeregshof van die Russiese Federasie teen die likwidasie van hulle regspersoon in Samara

Op 8 Oktober 2014 sal die Hooggeregshof van die Russiese Federasie die appèlsaak van Jehovah se Getuies in Samara verhoor in verband met die likwidasie van hulle Plaaslike Godsdiensorganisasie (LRO). Vroeër het ’n laer hof die Samara-LRO ekstremisties verklaar. As die Hooggeregshof nie die beslissing nietig verklaar nie, kan dit ernstige gevolge vir die meer as 1 500 Getuies in Samara inhou.

Die streeksaanklaer se kantoor in Samara gebruik aggressiewe metodes

Die aksie teen die LRO is in April 2014 ingestel, toe die streeksaanklaer se kantoor in Samara ’n versoek by die Samara-streekhof ingedien het om dit te likwideer weens “ekstremistiese bedrywighede”. Nog voordat die streekhof die saak verhoor het, het die aanklaer se kantoor die bedrywighede van die LRO stopgesit en tydelik beslag gelê op die eiendom daarvan. Ná die beslissing, en selfs voordat die hofsaak begin het, het die Russiese Federasie se Departement van Justisie die Samara-LRO op ’n lys van godsdiensorganisasies geplaas waarvan die bedrywighede stopgesit is weens aanklagte van ekstremisme. Toe, op 29 Mei 2014, het die regter Sjabajewa ten gunste van die aanklaer beslis en beveel dat die LRO gelikwideer word en die eiendom daarvan gekonfiskeer word.

Dit is nie die eerste keer dat die streeksaanklaer se kantoor in Samara aanklagte ingedien het in ’n poging om die Samara-LRO te likwideer nie. In 2009 het die aanklaer se kantoor ’n aanklag ingedien wat voor die hof gekom het, maar dit is later teruggetrek. In die huidige saak het die wetstoepassingsowerheid in Samara ’n ander benadering gevolg om hulle doelwit te bereik.

Russiese howe likwideer LRO om twyfelagtige redes

In Januarie 2013 en Januarie 2014 het die plaaslike polisie fasiliteite deursoek wat die Getuies vir aanbidding huur en godsdienspublikasies “gevind” wat op die Federale Lys van Ekstremistiese Materiaal is. Die stadsaanklaer se kantoor in Samara het die LRO ná die 2013-polisiesoektog ernstig vermaan, en nadat die polisie weer in Januarie 2014 godsdienspublikasies gevind het, het die aanklaer se kantoor ’n administratiewe saak aanhangig gemaak. Op 7 Maart 2014 het die Sowetski-streekhof van Samara die LRO skuldig bevind en dit ’n boete van 50 000 roebels (R15 213) opgelê. Die Getuies in Samara is oortuig dat die polisie tydens al twee soektogte die publikasies wat hulle gevind het, self weggesteek het. Jehovah se Getuies betwis ook Russiese hofbeslissings wat hulle publikasies ekstremisties verklaar het, en hulle het hulle in verskeie sake tot die Europese Hof van Menseregte gewend.

Nadat die streeksaanklaer se kantoor in Samara die hofsaak in die Sowetski-streekhof gewen het, het dit in April 2014 sy aanklag van ekstremisme by die Samara-streekhof ingedien. Die doelwit was om die LRO te likwideer. Die Getuies se regsverteenwoordigers het voor die regter Sjabajewa aangevoer dat die likwidasie van die LRO ongegrond is en dat die bedrywighede en oortuigings van Jehovah se Getuies en die LRO glad nie ekstremisties is nie. Hulle het ook gesê dat die “verbode” publikasies wat die polisie gedurende die soektogte gevind het, deur húlle weggesteek is. Die regter Sjabajewa het nogtans beslis dat die Samara-LRO gelikwideer moet word.

Sal Russiese owerhede voortgaan om godsdiensvryheid te beperk?

Wat in Samara gebeur, is soortgelyk aan wat die Russiese wetstoepassingsowerheid aan Jehovah se Getuies in Taganrog gedoen het, waar die owerheid vir die eerste keer die Federale Wet op die Teëwerking van Ekstremistiese Bedrywighede verkeerdelik op hulle aanbidding toegepas het. Die owerheid daar het in 2009 daarin geslaag om die Taganrog-LRO te likwideer, en later het dit ’n strafsaak teen individuele Getuies aanhangig gemaak. Die strafsaak het uiteindelik daartoe gelei dat sewe plaaslike Getuies aangekla en skuldig bevind is bloot omdat hulle godsdiensvergaderinge bygewoon het. Jehovah se Getuies in Samara is bekommerd oor die moontlikheid dat dieselfde met hulle sal gebeur.

Tot watter mate sal Russiese owerhede voortgaan om Jehovah se Getuies aan te val? Sedert Junie 2014 is valse aanklagte in verskeie dele van Rusland teen Getuies ingebring omdat hulle sogenaamd ekstremistiese godsdienslektuur versprei. Jehovah se Getuies in Samara hoop dat die Hooggeregshof van die Russiese Federasie in hulle saak reg sal laat geskied.