Spring na inhoud

Regter Iwanenko van die Hooggeregshof lewer die beslissing teen Jehovah se Getuies in Rusland

21 APRIL 2017
RUSLAND

Hooggeregshof van Rusland beslis dat bedrywighede van Jehovah se Getuies kriminele oortreding is

Hooggeregshof van Rusland beslis dat bedrywighede van Jehovah se Getuies kriminele oortreding is

Op 20 April 2017 het die Hooggeregshof van Rusland, ten spyte van wêreldwye veroordeling, beslis dat die bedrywighede van Jehovah se Getuies in Rusland ’n kriminele oortreding is. Regter Joeri Grigorjewitsj Iwanenko van die Hooggeregshof het ten gunste van die klag beslis wat deur die Departement van Justisie ingedien is. Volgens hierdie klag “moet die godsdiensorganisasie ‘Administratiewe Sentrum van Jehovah se Getuies in Rusland’ en die plaaslike godsdiensorganisasies wat daaraan verbonde is, gelikwideer word. Alle eiendom wat aan die godsdiensorganisasie behoort, moet ook aan die Russiese Federasie oorhandig word.”

Regter Iwanenko het verder gesê dat volgens hierdie beslissing sal alle bedrywighede van die Getuies se regsentiteite in Rusland onmiddellik beëindig word. Hoewel Jehovah se Getuies hierdie beslissing by die Appèlhof appelleer, is dit op die oomblik van krag wat beteken dat hulle aanbidding verban is.

Regsverteenwoordigers van die Administratiewe Sentrum

Wasili Kalin, wat op vier-jarige ouderdom saam met sy ouers weens hulle geloof as Jehovah se Getuies na Siberië verban is, het gesê: “Die oomblik toe hierdie beslissing vandag gelewer is, is die lewens van Jehovah se Getuies in Rusland as individue en gesinne heeltemal verander. Hulle kan nou krimineel vervolg en in die tronk opgesluit word net omdat hulle hulle geloof beoefen.”

Philip Brumley, die regsverteenwoordiger van Jehovah se Getuies, het gesê: “Vandag se beslissing is baie teleurstellend. Wanneer daar sonder vooroordeel gekyk word na die geskrewe pleidooie en die bewyse wat voorgelê is, is daar net een logiese gevolgtrekking—die Administratiewe Sentrum was nooit betrokke by enige sogenaamde ekstremistiese bedrywighede nie. Ons appelleer hierdie beslissing.”