Spring na inhoud

23 JANUARIE 2015
RUSLAND

Beslissing van die Hooggeregshof van die Russiese Federasie stel ’n gevaarlike presedent vir Jehovah se Getuies in Rusland

Beslissing van die Hooggeregshof van die Russiese Federasie stel ’n gevaarlike presedent vir Jehovah se Getuies in Rusland

Op 12 November 2014 het die Hooggeregshof van die Russiese Federasie ’n laer hof se beslissing gehandhaaf wat die Plaaslike Godsdiensorganisasie (LRO) van Jehovah se Getuies in Samara as ekstremisties verklaar het. Die aanklaer se kantoor in Samara het in 2014 ’n saak teen die Samara-LRO aanhangig gemaak nadat polisiebeamptes fasiliteite wat die Getuies vir godsdiensvergaderinge huur, deursoek het en ’n paar van hulle godsdienspublikasies “gevind” het wat landwyd verbied is. Die verbode publikasies is vroeër deur Russiese howe as ekstremisties verklaar en op die Departement van Justisie se Federale Lys van Ekstremistiese Materiaal geplaas. * Maar die Getuies in Samara het hulle reeds aan hierdie beslissings deur Russiese howe onderwerp en die publikasies verwyder uit die fasiliteite wat hulle vir aanbidding huur.

Die Getuies het voor die laer hof en in die Hooggeregshof aangevoer dat die polisiemanne wat die fasiliteit deursoek het, self die verbode lektuur daar versteek het sodat hulle aanklagte teen die Getuies kon indien. Die Getuies het ook verduidelik dat die Europese Hof van Menseregte tans ondersoek of vroeëre beslissings deur Russiese howe wat party van hulle publikasies verbied het, wettig is. Daarbenewens het die Getuies geredeneer dat al was die aantygings van die aanklaer in Samara waar—dat hulle wel verbode lektuur gestoor het—die straf buite verhouding tot so ’n geringe oortreding is. Om verbode lektuur te stoor, is ’n administratiewe oortreding waarvoor die straf ’n boete of ’n tydelike opskorting van die LRO se bedrywighede is, nie so ’n swaar straf soos likwidasie nie. Maar die Hooggeregshof het hierdie argumente verwerp.

Likwidasie van ’n regsentiteit—’n Tree nader aan strafregtelike vervolging?

Die likwidasie van die Samara-LRO volg ’n soortgelyke patroon as die saak in die stad Taganrog, waar die streekhof van Rostof in 2009 die LRO op aanklag van ekstremisme gelikwideer het. Gevolglik het die wetstoepassingsowerheid van Taganrog hierdie besluit vertolk as ’n de facto-verbod op die godsdiensbedrywighede van Jehovah se Getuies in die gebied. Sestien Getuies in Taganrog is in 2013 strafregtelik aangekla bloot omdat hulle hulle godsdiens beoefen het—net soos Jehovah se Getuies dit regoor die wêreld beoefen, ook in Samara. Sewe Getuies is swaar beboet; vier van hulle, wat gemeentelike ouer manne is, is ook lang tronkvonnisse opgelê. Maar die regter het hulle die boetes kwytgeskeld omdat die ondersoek en verhoor die verjaringswet oorskry het, en hy het hulle vonnisse opgeskort. Die Getuies het teen hierdie beslissings geappelleer, en op 12 Desember 2014 het die streekhof van Rostof beveel dat ’n nuwe verhoor met ’n nuwe regter gehou moet word.

Die 1 500 Getuies van Jehovah wat in die Samara-streek woon, kan nou strafregtelik vervolg word bloot omdat hulle hulle godsdiens beoefen. Waar sal dit eindig? Die Russiese owerheid ondersoek nou ook Getuie-LRO’s in verskeie dele van die land. Slegs die tyd sal leer watter uitwerking hierdie onderdrukkende stappe van die staat op die byna 180 000 Getuies in Rusland sal hê. Maar die beslissing van die Hooggeregshof stel ’n gevaarlike presedent wat die vryheid van Jehovah se Getuies en ander godsdiensminderhede in Rusland bedreig.

^ par. 2 Daar is tans 73 godsdienspublikasies van Jehovah se Getuies op die Federale Lys van Ekstremistiese Materiaal. Een van die godsdienspublikasies wat by die gehuurde fasiliteit van die Samara-LRO gevind is, is die boek Aanbid die enigste ware God. Dit word in 158 tale uitgegee, met ’n wêreldwye verspreiding van 23 970 207 eksemplare. Nog ’n boek wat gevind is, is Kennis wat tot die ewige lewe lei, wat in 166 tale uitgegee word, met ’n wêreldwye verspreiding van 100 944 355 eksemplare. Jehovah se Getuies het aansoeke by die Europese Hof van Menseregte ingedien om die beslissings van die Russiese howe te betwis wat hulle publikasies as ekstremisties verklaar het.