27 FEBRUARIE 2017
RUSLAND
Departement van Justisie doen ’n grootskaalse inspeksie van die Getuies se nasionale kantoor in Rusland
Rusland se Departement van Justisie is besig met ’n grootskaalse ondersoek van die Getuies se nasionale kantoor in Rusland. Die Hoofaanklaer het beveel dat die Departement van Justisie die Getuies op 1 Februarie 2017 in kennis stel dat daar ’n inspeksie van hulle Administratiewe Sentrum sal wees. Die inspeksie sou plaasvind tussen 8 en 27 Februarie. Die Administratiewe Sentrum moes alle dokumente in verband met hulle eiendom, finansiële state, organisatoriese struktuur, onderrigtingsbedrywighede en leerstellige gebruike vir die Departement van Justisie gee. Op 15 Februarie 2017 het die Administratiewe Sentrum dokumente van meer as 73 000 bladsye aan die regering gegee.
Hierdie groot inspeksie volg kort op ’n onlangse beslissing deur die Stadshof van Moskou wat die Hoofaanklaer se waarskuwing in Maart 2016 aan die Administratiewe Sentrum bevestig het. In hierdie waarskuwing het die Hoofaanklaer gedreig om die Administratiewe Sentrum op aanklagte van ekstremisme toe te maak. Sedertdien het howe in ander gebiede van Rusland ’n hele paar plaaslike regsentiteite van die Getuies ontbind as gevolg van beweerde “ekstremistiese bedrywighede”. Dit was duidelik dat die aanklagte teen die Getuies op vervalste bewyse gegrond was.
As gevolg van hierdie inspeksie is Jehovah se Getuies in Rusland bekommerd dat hulle nasionale kantoor binnekort toegemaak gaan word. Tot dusver het Rusland gewys dat hulle bereid is om internasionale standaarde oor menseregte te ignoreer deur die vreedsame aanbidding van Jehovah se Getuies aan te val en dit moontlik te beperk.