Spring na inhoud

2 AUGUST 2017
RUSLAND

Internasionale reaksie op beslissing deur Rusland se Hooggeregshof teen Jehovah se Getuies

Internasionale reaksie op beslissing deur Rusland se Hooggeregshof teen Jehovah se Getuies

Internasionale regeringsagentskappe en -beamptes het gereageer op die beslissing deur Rusland se Hooggeregshof om die aanbidding van Jehovah se Getuies in Rusland te kriminaliseer. In hulle verklarings veroordeel hulle Rusland se onregverdige en streng regstappe teen ’n godsdiensminderheidsgroep wat vir hulle vreedsame godsdiensbedrywighede bekend is.

Op 17 Julie 2017 het ’n paneel van drie regters van die appèlafdeling van die Russiese Hooggeregshof die hof se beslissing van 20 April bevestig “om die godsdiensorganisasie ‘Administratiewe Sentrum van Jehovah se Getuies in Rusland’ te likwideer en al die plaaslike godsdiensorganisasies wat daarvan deel is, te ontbind en alle eiendom van die godsdiensorganisasie aan die Russiese Federasie te oorhandig”. Deur hierdie beslissing het die hof die aanbidding van Jehovah se Getuies in die hele Rusland verban.

Verklarings ná die appèlafdeling se beslissing op 17 Julie 2017

Hier is uittreksels uit die verklarings wat gemaak is ná die beslissing op 17 Julie 2017 deur die appèlafdeling van Rusland se Hooggeregshof wat die vroeëre beslissing van 20 April bevestig het:

“Ons is baie bekommerd oor die beslissing deur Rusland se Hooggeregshof wat die appèl deur Jehovah se Getuies verwerp het. Hulle het geappelleer teen die feit dat hulle as ‘ekstremiste’ geklassifiseer is. Hierdie beslissing bekragtig die kriminalisering van die vreedsame aanbidding van 175 000 Russiese burgers. Dit is ook in stryd met die reg op godsdiensvryheid wat deur die Russiese grondwet beskerm word.”—Lord Ahmad van Wimbledon, Minister van Menseregte, Buitelandse en Statebondskantoor, Groot-Brittanje. https://www.gov.uk/government/news/minister-for-human-rights-statement-on-russian-supreme-court-ruling

“Die beslissing hierdie week deur die Russiese Hooggeregshof teen Jehovah se Getuies vorm ’n ontstellende patroon waarin godsdiensminderheidsgroepe in Rusland vervolg word. Ons vra die Russiese regering om die verbod op die godsdiensbedrywighede van Jehovah se Getuies te verwyder en om hulle Administratiewe Sentrum weer oop te maak. Ons vra ook dat enige lede van godsdiensminderheidsgroepe wat onregverdig aangehou word vir sogenaamde ‘ekstremistiese’ bedrywighede, vrygelaat word.”—Heather Nauert, woordvoerder vir die Amerikaanse Departement van Buitelandse Sake. https://www.state.gov/r/pa/prs/ps/2017/07/272679.htm

“Jehovah se Getuies, soos alle ander godsdiensgroepe, het die reg om vreedsaam te vergader sonder inmenging. Dit word gewaarborg deur die grondwet van die Russiese Federasie sowel as Rusland se internasionale verpligtinge en internasionale standaarde vir menseregte.”—Woordvoerder vir die Europese Diens vir Buitelandse Optrede. https://eeas.europa.eu/headquarters/headquarters-homepage/30022/statement-spokesperson-upheld-ban-activities-jehovahs-witnesses-russia_en

“Die Hooggeregshof se beslissing wys ongelukkig hoe die regering aanhou om die vreedsame beoefening van godsdiens as ekstremisme te klassifiseer. Die Getuies is nie ’n ekstremistiese groep nie en moet toegelaat word om hulle geloof openlik en vryelik te beoefen sonder dat die regering hulle onderdruk.”Daniel Mark, voorsitter van die Amerikaanse Kommissie vir Internasionale Godsdiensvryheid. http://www.uscirf.gov/news-room/press-releases/russia-jehovah-s-witnesses-banned-after-supreme-court-rejects-appeals

“Ek is baie bekommerd oor die feit dat die hof die verbod op Jehovah se Getuies in Rusland bevestig het. Ondanks ons herhaaldelike versoeke hierteen maak hierdie beslissing dit ’n kriminele oortreding om die reg op vryheid van godsdiens en gedagte op ’n vreedsame manier te beoefen.”—Gernot Erler, koördineerder vir die Gemeenskaplike Samewerking tussen Rusland, Sentraal-Asië en die Vennootskap van Oostelike Lande, Kantoor van Buitelandse Sake van Duitsland. http://www.auswaertiges-amt.de/sid_5DAC942B7DE50BCC4AFCDFC864C2E383/EN/Infoservice/Presse/Meldungen/2017/170719-Ko_RUS-Zeugen_Jehovas.html

“Rusland se onlangse skokkende beslissing om Jehovah se Getuies te verban al is hulle ’n erkende godsdiensgemeenskap in Rusland, is ’n algehele skending van die beskerming van vryheid van godsdiens en geloof soos uiteengesit in Artikel 18 van die Universele Verklaring van Menseregte. . . . Goedgesinde mense uit alle godsdiensgemeenskappe sowel as dié wat die reg op vryheid van gewete respekteer, moet in eenheid met Jehovah se Getuies in Rusland saamstaan.”—Dr. Katrina Lantos Swett, president, Lantos Fonds. https://www.lantosfoundation.org/news/2017/7/17/lantos-foundation-condemns-russias-outrageous-decision-to-ban-jehovahs-witnesses

Verklarings ná die Hooggeregshof se beslissing op 20 April 2017

Voordat die appèlafdeling sy beslissing gelewer het, het ’n hele paar regeringsagentskappe en -beamptes die Russiese Hooggeregshof se beslissing van 20 April 2017 veroordeel:

“Ek het President Vladimir Putin gevra om sy invloed te gebruik om minderheidsregte hier, maar ook vir Jehovah se Getuies, te waarborg.”—Minister Angela Merkel, gedurende ’n nuuskonferensie met President Putin. http://uk.reuters.com/article/uk-russia-germany-putin-syria-idUKKBN17Y1JZ

“Die Hooggeregshof het onlangs beslis dat die Administratiewe Sentrum van Jehovah se Getuies in die Russiese Federasie en die 395 plaaslike godsdiensorganisasies wat deur die Getuies gebruik word, ekstremistiese organisasies is en toegemaak moet word. Hierdie optrede wys dat godsdiensvryheid in Rusland in gevaar is en is nog ’n voorbeeld van hoe wetgewing teen ekstremisme misbruik word om die vryheid om te vergader en die vryheid van meningsuiting te beperk.”—Theodora Bakoyannis en Liliane Maury Pasquier, mede-referente van die PACE-moniteringskomitee vir die Russiese Federasie. http://assembly.coe.int/nw/xml/News/News-View-EN.asp?newsid=6599

“Daar is geen verskoning vir die feit dat Rusland weier om godsdiensvryheid te respekteer nie, en dit is nog ’n duidelike verbreking van Moskou se verpligtinge teenoor die OSCE [Organisasie vir Veiligheid en Samewerking in Europa]. Mense wat hulle godsdiens vreedsaam beoefen, behoort nie bang te wees dat hulle lastig geval, beboet of in die tronk gegooi sal word nie. Die hele saak word vererger deur die hofbevel dat die eiendom wat aan die organisasie van Jehovah se Getuies behoort, afgevat word. Ek hoop dat hierdie saak na die Europese Hof van Menseregte geappelleer sal word.”—Senator Roger Wicker, voorsitter van die Kommissie oor Veiligheid en Samewerking in Europa. http://csce.emailnewsletter.us/mail/util.cfm?gpiv=2100141660.2454.614

“Die Hooggeregshof van die Russiese Federasie het gister beslis dat die bedrywighede van die Administratiewe Sentrum van Jehovah se Getuies in Rusland op grond van ‘ekstremisme’ verban word. Dit is nou moontlik om Jehovah se Getuies krimineel te vervolg net omdat hulle hulle aanbidding beoefen. Jehovah se Getuies moet, soos alle ander godsdiensgroepe, die reg hê om vreedsaam te vergader sonder inmenging. Hierdie reg word gewaarborg deur die grondwet van die Russiese Federasie en ook deur Rusland se internasionale verpligtinge en internasionale standaarde vir menseregte.”—Woordvoerder vir die Europese Diens vir Buitelandse Optrede. https://eeas.europa.eu/headquarters/headquarters-homepage/24870/statement-ban-activities-jeho

“Ek is baie bekommerd oor hierdie onregverdige kriminalisering van die vreedsame bedrywighede van Jehovah se Getuies in Rusland. Hierdie optrede kan die bestaan van hierdie gemeenskap in die land beëindig. Die beslissing deur die Hooggeregshof bedreig die waardes en beginsels waarop demokratiese, vrye, ope en verdraagsame gemeenskappe gegrond is.”—Michael Georg Link, direkteur van die OSCE se kantoor vir Demokratiese Instansies en Menseregte. http://www.osce.org/odihr/313561

“Hierdie verbod wat vreedsame mense vervolg net omdat hulle hulle geloof beoefen, is ’n skending van die basiese reg op godsdiensvryheid asook die internasionale standaarde vir menseregte. Hierdie regte word ook deur die grondwet van die Russiese Federasie gewaarborg. Daarom moet dit so gou as moontlik hersien word.”—Professor Ingeborg Gabriel, persoonlike verteenwoordiger van die OSCE se voorsitter vir die kantoor vir die Stryd teen Rassisme, Xenofobie en Diskriminasie. http://www.osce.org/odihr/313561

“Ek is geskok deur die besluit van die Hooggeregshof in Rusland wat beweer dat Jehovah se Getuies ‘ekstremiste’ is. Hierdie beslissing kriminaliseer die vreedsame aanbidding van 175 000 Russiese burgers. Dit is ook ’n skending van die reg op godsdiensvryheid wat beskerm word deur die Russiese grondwet. Die VK vra die regering van Rusland om sy internasionale verpligting in verband met hierdie basiese vryheid na te kom.”—Barones Joyce Anelay, voormalige Minister van Buitelandse Sake vir die Statebond en die VN by die Buitelandse en Statebondskantoor. https://www.gov.uk/government/news/minister-for-human-rights-criticises-russian-supreme-court-ruling-for-labelling-jehovahs-witnesses-as-extremist

Internasionale veroordeling van die beslissing deur die Russiese Hooggeregshof

Op 20 Julie 2017 het die Permanente Raad van die OSCE ’n verklaring deur die Europese Unie (EU) aangeneem. Hierdie verklaring vra dat Rusland Jehovah se Getuies toelaat om “vreedsaam te vergader sonder inmenging, soos gewaarborg deur die grondwet van die Russiese Federasie asook Rusland se internasionale verpligting en internasionale standaarde vir menseregte.” Die verklaring is eenparig aanvaar in Wene deur al 28 lidstate van die EU. Ander nie-EU lidlande soos Australië, Kanada en Noorweë stem ook hiermee saam. https://eeas.europa.eu/sites/eeas/files/pc_1155_eu_jehovahs_witnesses_in_russia.pdf

Jehovah se Getuies regoor die wêreld is baie teleurgesteld deur die partydige beslissing van die Hooggeregshof in Rusland wat basies hulle aanbidding in die hele land verban. Internasionale regeringsagentskappe en –beamptes het deur hulle reaksies getoon dat hulle nie daarmee saamstem dat Rusland Jehovah se Getuies onregverdig as “ekstremisties” verklaar nie. Hulle is ook nie daarmee tevrede dat Rusland sy eie grondwet en sy internasionale verpligtinge om godsdiensvryheid te beskerm, ignoreer nie. Die Europese Hof van Menseregte moet nog hierdie saak aanhoor en hopelik sal hulle die landwye verbod verwyder.