Spring na inhoud

30 MEI 2017
RUSLAND

Jehovah se Getuies se appèl sal op 17 Julie 2017 deur Rusland se Hooggeregshof aangehoor word

Jehovah se Getuies se appèl sal op 17 Julie 2017 deur Rusland se Hooggeregshof aangehoor word

Jehovah se Getuies in Rusland het appèl aangeteken teen die uitspraak van die Hooggeregshof wat hulle aanbidding verban het. Die beslissing op 20 April, deur regter Joeri Iwanenko, het alle bedrywighede van die Getuies se regsentiteite regoor die land beëindig. ’n Paneel van drie regters van die Hooggeregshof se Appèlkantoor sal die appèlsaak op 17 Julie 2017 aanhoor.

Die Getuies vra dat die beslissing omgekeer word. Volgens die appèl is die beslissing nie gebaseer op feitlike bewyse nie, en is Jehovah se Getuies nie skuldig aan enige ekstremistiese bedrywighede nie. Die appèlaansoek beklemtoon ook dat die Hooggeregshof se beslissing gebaseer is op dieselfde aanklagte as dié wat deur die owerheid gebruik is om die Getuies gedurende die Sowjet-era te vervolg. Die Getuies is later gerehabiliteer en vrygespreek van hierdie aanklagte. Verder wys die appèlaansoek ook daarop dat die beslissing strydig is met die Russiese Grondwet en Rusland se internasionale verpligtinge, wat godsdiensvryheid waarborg.

As gevolg van die beslissing word daar reeds teen die Getuies opgetree op maniere wat ooreenkom met die onderdrukking wat hulle ondervind het onder die Kommunistiese regering. Die owerheid het party Getuies van “ekstremistiese bedrywighede” aangekla, werkgewers het Getuies afgedank en onderwysers het Getuie-leerlinge voor hulle klasmaats geïntimideer. Mense wat bevooroordeeld is, het ook Koninkryksale beskadig en twee huise van Getuies met brandbomme bestook sodat die huise heeltemal afgebrand het.

Jehovah se Getuies regoor die wêreld hoop dat die Appèlkantoor van Rusland se Hoogeregshof sal besef dat hierdie beslissing onregverdig was en dat hulle dit ongeldig sal verklaar. Deur dit te doen sal die Hof godsdiensvryheid asook die veiligheid van Jehovah se Getuies in Rusland beskerm.